Skip to main content

Die Hollandse troonopvolger, kroonprinses Amalia, Prinses van Oranje, het haar agttiende verjaardag gister stil-stil tuis gevier.

Agttien is die ouderdom wat ‘n troonopvolger volgens die Nederlandse reg as gereed vir die troon beskou word, maar dit is onwaarskynlik dat sy binnekort die septer sal swaai. Indien dit gebeur dat haar 54-jarige pa, koning Willem-Alexander, te sterwe kom of abdikeer, sal sy haar Argentyns-gebore ma, koningin Maxima, vra om vir haar in te staan.

Amalia sou van vandag af gekwalifiseer het om ‘n salaris van 1,6 miljoen euro per jaar – R28,5 miljoen rand, oftewel R2,38m per maand – te kry om voorsiening te maak vir goed soos huishoudelike uitgawes, maar sy het ‘n brief aan die eerste minister geskryf om die salaris van die hand te wys totdat sy haar land die dag voltyds dien.

Die nederige kroonprinses het vanjaar haar finale skooleksamen voltooi – en dit met onderskeiding geslaag – en die geleentheid gevier deur haar skooltas van die vlagpaal by die koninklike woning Villa Eikenhorst in Wassenaar te laat wapper.

Sy hou nie daarvan as mense haar aanstaar as sy inkopies doen nie – sy sê dit laat haar voel of sy ‘n goudvis op haar kop het – en werk as ‘n kelnerin.

Sy gaan wel nou ‘n lid van die grondwetlike advieskomitee word.

  • Die koninklike inligtingsdiens het Sondag bekend gemaak dat die voormalige koningin Beatrix (83) Covid-19 opgedoen het.

Koning Willem-Alexander het in ‘n kort verklaring gesê sy ma het slegs geringe simptome en vaar uitstekend.

Leave a Reply