Skip to main content

Motoriste kan nou transaksietye vir die hernuwing van motorvoertuiglisensies by die Poskantoor aansienlik verminder deur eers op die Nasionale Verkeersinligtingstelsel (NATIS) se webwerf te registreer.

Volgens die Suid-Afrikaanse Poskantoor (SAPO) sal bestuurders wat op NATIS geregistreer is dan ‘n aanmaning via ‘n SMS met ‘n verwysingsnommer ontvang voordat hernuwing geskied.

“Voertuigeienaars kan ook kies om ’n aanmaning met dieselfde inligting per e-pos te ontvang,” het SAPO Dinsdag gesê.

Die aanbieding van die SMS, of gedrukte hernuwingsaanmaning, elimineer verskeie stappe vir die hernuwingstransaksie by ‘n Poskantoortoonbank en spaar baie tyd.

Om die hernuwingsproses te bespoedig, kan die hernuwingskennisgewing deur klante gedruk word en by die Poskantoor aangebied word wanneer die voertuiglisensie hernu word.

Motoriste kan na https://www.natis.gov.za/ gaan en op aanlyndienste klik en dan registreer vir voertuighernuwings. Daarna kan die kennisgewing afgelaai en uitgedruk word. Óf mense kan kies om ‘n hernuwingsaanmaning-SMS te ontvang.

In die provinsies van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap word ‘n bewys van adres elke tweede jaar vereis en die veiligste opsie is om ‘n bewys van adres saam te bring wanneer jy jou voertuiglisensie hernu.

Poskantoortakke bied ook ‘n grootmaat aflaai- en afhaaldiens vir vloothernuwings.

Dit is onprakties vir privaat motoriste aangesien daar verkeersboetes uitstaande kan wees wat eers betaal moet word voordat die stelsel toelaat dat die lisensie hernu word.

Waar die Poskantoor-logo egter op die gedrukte verkeersboete verskyn, kan dit ook by enige tak betaal word.

Boonop word kaarte én kontant nou as betaling vir motorvoertuiglisensies aanvaar.

Intussen het SAPO gesê sy aanlyn hernuwingsfasiliteit vir motorvoertuiglisensies is vertraag deur administratiewe en wetlike vereistes en sal na verwagting vroeg in 2022 bekend gestel word.

Leave a Reply