Die Wes-Kaapse SAPD-bestuur het ‘n Nyanga-polisielid wat die naweek aangekla is vir die beweerde verkragting van ‘n man wat van winkeldiefstal verdink word, summier geskors.
Die arrestasie volg op ‘n IPID-ondersoek na bewerings dat die polisiekonstabel die man wat in ‘n polisievangwa was, verkrag het.
Weens die erns van die aantygings wat teen die 31-jarige polisiekonstabel gemaak is, is ‘n spoedige interne dissiplinêre proses oor die geskiktheid van die lid om in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te wees, begin.
Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, Lt.genl. Thembisile Patekile beskou die aantygings wat teen die lid gemaak is in ‘n ernstige lig. “Dit is voorvalle soos hierdie wat die verhouding tussen polisie en gemeenskappe nadelig beïnvloed. Dit is hoekom dit van kardinale belang is dat die ondersoeke wat deur IPID onderneem word, agter die kap van die byl kom. Daar word van die polisie verwag om beskermers van gemeenskappe te wees,” sê Lt.genl. Patekile.