Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV), advokaat Shamila Batohi, sê die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) werk daaraan om seker te maak dat “die krane van korrupsie toe is”.
Sy het gister tydens ‘n media-inligtingsessie die land op hoogte gebring aangaande sake rakende die vervolgingsgesag.
Batohi het die stryd teen korrupsie met ‘n marathon vergelyk.
“Ons is op die regte pad en ten spyte van belangrike vordering, is ons ver van waar ons wil wees, maar ons is op die regte pad. Maar wat duidelik is, is dat straffeloosheid nie meer ‘n gegewe is nie. Die krane van korrupsie word gesluit en dit is die realiteit. Daar is belangrike sake wat voor die hof gebring is wat dit demonstreer. Dit demonstreer dat die oppergesag van die reg in ons land ons riglyn is,” het sy gesê.
Die NVG-hoof het gesê hoewel korrupsie nog altyd ‘n topprioriteit vir die vervolgingsgesag was, word selfs meer klem hierop gelê met verskeie eenhede binne die NVG en ander belanghebbendes wat saamwerk om die plaag te bekamp.
Batohi het bygevoeg dat die NVG se korrupsiebekampingspogings versterk is deur die gespesialiseerde handelsmisdaadhof, die instelling van korrupsiehowe soos die Spesiale Tribunaal en die skepping van teenkorrupsie-blitslyne.
“Hierdie ingryping het verseker dat dit met betrekking tot regeringskorrupsie verbeter van 31 skuldigbevindings verlede jaar tot 53 skuldigbevindings aan die einde van kwartaal twee vanjaar en private sektor korrupsiesake het van 68 tot 84 toegeneem,” het sy gesê.
Batohi het onthul dat daar in terme van georganiseerde kriminele aktiwiteite soos dié van bendes in die Wes-Kaap “beduidende arrestasies en vervolgings” voortgaan.
Sy het egter gewaarsku dat misdaadintelligensie opgeknap moet word om meer misdadigers aan te keer.
“Die realiteit is dat sonder goeie misdaadintelligensie en behoorlik geïdentifiseerde projekgedrewe ondersoeke, ons die stryd teen georganiseerde misdaad sal verloor. Daar moet dus regtig baie werk wees om seker te maak dat die ware georganiseerde misdadigers aan die hof gebring word en nie die ‘hardlopers’ op die grond nie,” het sy gesê.
Batohi het gesê die NVG werk saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens om hierdie sindikate te bekamp in gebiede wat kabeldiefstal, skade aan infrastruktuur en onwettige mynbou insluit.
“Dit is dus baie belangrik dat wetstoepassers in staat is om hulself te bekwaam met die nodige kundigheid. Dit sluit kuberkundiges om hierdie georganiseerde misdaad-uitdagings wat ons land in die gesig staar in, asook mense om die onwettige uitvoermarkte te hanteer, sodat ons by die regte sindikaatleiers uitkom,” het sy gesê.
Batohi het aangekondig dat die NVG teen die einde van kwartaal twee ‘n skuldigbevindingskoers van seksuele misdrywe van byna 73% behaal het met hoë vonnisse wat aan oortreders opgelê is.
Sy het gesê sowat 16 000 slagoffers het hulp by die Thuthuzela-sorgsentrums ontvang.
“Ons het baie goeie skuldigbevindingskoerse, maar dit is net met betrekking tot sake wat na die hof kom. Andersins, as jy kyk na die skuldigbevindingskoers teenoor die aantal aangemelde sake, is dit regtig redelik laag,” het sy gesê.
Die NVG het egter gesê dat die wetstoepassers ook moet help om geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord te beveg.
“Ons is nog nie naastenby op dreef met seksuele en geslagsmishandeling in hierdie land nie en die realiteit is dat wetstoepassers [alleen] nie hierdie saak sal kan hanteer nie. Ons het regtig ‘n hele samelewingsbenadering nodig sodat ons kan verstaan hoekom hierdie oortredings gepleeg word,” het sy gesê.
Die hoof van die NVG het gesê die owerheid is terdeë bewus van die belangrikheid daarvan om vervolgingsaangeleenthede op te los wat uit die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) voortgespruit het.
Sy het gesê ’n nuwe portefeulje is in die Nasionale Vervolgingsdiens van die NVG op die been gebring “om spesifiek te deel met sake wat uit die WVK spruit”.
Tot dusver, het sy bygevoeg, word minstens 59 sake deur hierdie portefeulje ondersoek met 56 ander sake wat verwys moet word.
Batohi het gesê die NVG erken dat “tyd min raak” vir die slagoffers van apartheidsmisdade en het verseker dat die owerheid bewus bly van sy “plig om gesinne by te staan om te verseker dat sake beslis word en dat daar geregtigheid vir gesinne is”.