Die vrou wat verlede week kaal in Gordon- en Libertasstraat in Witbank, voor karre ingehardloop het, is opgeneem in ’n rehabilitasiesentrum.
Haar ma, Annetjie Spies het gesê haar dogter het vrywilliglik ingestem om na ‘n rehabilitasiesentrum toe te gaan.
Die 38-jarige Bernadette het vir ’n opskudding gesorg nadat inwoners in die omgewing vroegoggend verlede week wakker gemaak is deur gille van ‘n kaal vrou wat voor karre ingehardloop het.
Sy was deur een van die inwoners plat geduik en met ’n japon toegegooi, mediese personeel van Netcare 911 het haar na Witbank Hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Daar was vasgestel dat sy die dwelm, ‘Crystal Meth’ gebruik het.
Op straat word dit “glass”, “meth”, “shards”, ice” of “Tina,” genoem onder diegene wat hierdie hoogs verslawende dwelm vervaardig. Deur die algemene publiek word die term “crystal meth” gebruik, dit lyk soos glaskristalle.
“Crystal meth” kan gerook, gesnuif, mondelings geneem of ingespuit word. Dit word dikwels by partytjies gebruik, as ‘n ‘opkikker’ soos ‘n energiedrankie want dit laat die gebruiker vir langer as normaal wakker bly.