Die einde is dalk in sig vir die Covid-19-pandemie.
Hoewel die vierde Covid-golf duidelik hier is, gee die relatief lae aantal hospitaal-opnames heelparty kenners hoop dat die Omikron-variant die eerste stuiptrekking van die pandemie is.
Prof. Shabir Madhi, dekaan van Gesondheidsdienste-fakulteit van die Universiteit van die Witwatersrand, sê dit lyk of Omicron vinniger as Delta onder die publiek versprei, maar dat die hospitalisasiekoers laer is.
“Die totale aantal gevalle (tydens die vierde golf) sal waarskynlik groter wees, maar hospitalisasies en sterftes sal laer wees as gedurende enige van die eerste drie golwe.”
Madhi het gesê dat alles daarop dui dat 75% tot 80% van die bevolking tydens die eerste drie golwe met die virus besmet is. “Dit gaan waarskynlik nie daardie individue toerus om infeksie te weerstaan nie, maar verhoed dat infeksie tot ernstige siekte lei.”
“As ons in die tweede en derde golf hierdie vlakke van positiewe toetse gesien het, sou ons baie beduidende toenames in hospitaalopnames gesien het, en ons sien dit nie,” het Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, verlede week aan Bloomberg gesê.
Hy meen Omikron kan die einde van Covid-19 aandui, met die virus wat homself in so ‘n mate verswak het dat dit hoogs aansteeklik is, maar nie ernstige siektes veroorsaak nie. “Dit is wat met Spaanse griep gebeur het.”
Die koronavirus het verlede week soos ‘n veldbrand deur Suid-Afrika versprei, met Maandag se syfer van rondom 2 300 nuwe infeksies wat teen Vrydag tot meer as 16 000 infeksies per dag toegeneem het.
Intussen het hospitaalopnames ook ‘n dramatiese styging van 18 per dag tot 279 op Vrydag gesien. Dit is egter baie laer as wat verwag is, gegewe die eksponensiële toename in positiewe Covid-19-toetse.
Wat interessant is, is dat dit lyk of inentings mense glad nie teen besmetting beskerm nie. Dit lyk trouens of mense wat gevaksineer is, die grootste deel van nuwe infeksies uitmaak, hoewel die regering en ander kenners suutjies trap om die onderwerp.
“Ons sien infeksies van mense wat ingeënt is, maar die infeksies wat ons sien is baie lig tot matig,” het Friedland gesê.
Hospitale sien ook baie pasiënte wat herbesmet is. Dit is nog nie duidelik hoeveel mense wat Covid-19 vir hul tweede of derde keer opgedoen het ‘n entstof tussen infeksies gekry het nie.
Een area van kommer is dat kinders blykbaar meer vatbaar is vir infeksie van die Omicron-variant. Rapport het opgemerk dat statistieke van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) toon dat sowat 11% van hospitaalopnames tussen 14 en 27 November kinders onder twee jaar oud was.
Alhoewel kenners hoopvol is dat Suid-Afrika se vierde golf nie so erg soos die derde sal wees nie – wat die druk op hospitale en sterftes betref – waarsku hulle ook dat baie nog onbekend is. Marc Mendelson, hoof van aansteeklike siektes by die Universiteit van Kaapstad en dokter by die Groote Schuur-hospitaal, sê: “Die enigstes wat hul hand op hul harte sit en vir die wêreld sê moenie bekommerd wees nie, dit gaan sag wees, het nog nie genoeg nederigheid geleer in die aangesig van hierdie virus nie. Dit is altyd lekker om te hoop, maar moenie alles hierop stel nie, want ek dink jou hoop kan vernietig word.”
Intussen dryf die regering hulle vaksineringsveldtog onvermoeid voort.
Pres. Cyril Ramaphosa het gister in sy weeklikse nuusbrief geskryf “Inenting is noodsaaklik vir ons ekonomiese herstel, want namate meer mense ingeënt word, sal groter ekonomiese aktiwiteit oopgemaak word,” het hy gesê.
Tot dusver is byna 25 persent van die Suid-Afrikaanse bevolking ten volle ingeënt, terwyl 4,7 persent ‘n enkele dosis ontvang het..
Die regering sal binnekort die Nasionale Koronavirusbevelsraad byeenroep om te besluit of verdere inperkingsmaatreëls nodig is, het Ramaphosa gesê.