Skip to main content

ALTA THERON

“Ons is in die stadium verplig om dáárdie miljoene wat ons ingesamel het in tradisionele universiteite se sakke te druk.”

Só het Stefan Pieterse, hoof van Die Helpende Hand Studietrust (HHS), vroeër vanoggend gesê nadat dié trust op ’n mediakonferensie aangekondig het dat hulle R50,3 miljoen ingesamel het om hulpbehoewende Afrikaanse studente se studiedrome volgende jaar waar te maak.

Pieterse het veral die klem geplaas op moedertaalonderrig en gesê dat die trust “ongelukkig” nie’n ander keuse het om Afrikaanse studente aan universiteite – wat al hoe meer verengels – te laat studeer nie. “Ons wil graag teen 2030 al die verskeie vakrigtings by Akademia (die Solidariteitbeweging se onafhanklike universiteit) en Soltech aanbied en dan net studente, wat aan dié instellings studeer, befonds.”

Op die vraag of Akademia wel al as een van die topuniversiteite in die land beskou kan word en of die akademiese opleiding op standaard is, het Pieterse gesê dat hulle van die beste akademici in die land op hulle personeel het. “Ons kry goeie terugvoer van werkgewers. Maatskappye wil graag studente van Akademia en Soltech aanstel.”

Hannes Noëth, Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, het egter daarop gewys dat die geldelike hulp nie as beurse beskou moet word nie, maar as lenings wat studente rentevry terugbetaal.

“Rentevrye studielenings word toegestaan op die basis dat studente wat afstudeer, slegs dit terugbetaal wat hulle geleen het, sonder dat enige rente of administratiewe fooie gehef word. Geld wat teruggevorder word, word sodoende weer en weer aangewend om die volgende hulpbehoewende studente se studies moontlik te maak,” het hy gesê.

Die bedrag van R50,3 miljoen word opgemaak uit skenkings wat gedurende 2021 (R28,98 miljoen), ontvang is,  asook terugvorderings van afgestudeerde studente wat hul rentevrye studielenings terugbetaal het (R21,3 miljoen).

Die meeste studente, sê Noëth, wat uit die fonds gebaat het, het werk gekry en betaal hulle lenings sonder dat prokureursbriewe uitgereik moet word, terug.

Volgens Pieterse word die meeste geld spandeer aan die opleiding van onderwysers, finansiële beamptes en ambagslui.

“Ons diskrimineer glad nie teen enige studierigting nie – ook nie teen velkleur nie – die student moet net aan sekere vereistes voldoen; Afrikaanssprekend en behoeftig wees.”

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die belangrikheid van opleiding uitgewys, en hy het gesê finansies moet nie in die pad van ʼn student wat wil studeer, staan nie. “Opleiding is ʼn belegging met ʼn lewenslange opbrengs vir ʼn land. Dis die veiligste belegging met die hoogste opbrengs wat daar is,” het hy gesê.

Noëth het gesê die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika is die hoogste nog en die statistieke is baie negatief.

“Een van die kragtigste maniere om werkloosheid hok te slaan, is deur middel van opleiding. Daarom is Helpende Hand baie dankbaar dat ons die R50 miljoen-kerf in 2021 verby kon steek. Dit is ʼn eerste keer in die geskiedenis van die fonds – ten spyte van die pandemie- wat ons die bedrag kon insamel. “

Leave a Reply

error: Content is protected !!