ISAAC CLOETE
‘n Sersant en sy vrou se skietdood in Springbok het meer vrae as antwoorde onder die gemeenskap gelaat.
Die sersant het eers sy vervreemde vrou en toe homself doodgeskiet. ‘n Derde persoon, ‘n 24-jarige man, is ook ernstig gewond.
Die skieter was ‘n lid van die openbare orde-polisie (POPS) op Springbok.
Die tragiese gebeure het die naweek by haar suster se woning in Simonsig, Springbok, afgespeel.
Volgens ‘n woordvoeder van OPOD, Grace Langa, het die polisie omstreeks sesuur Saterdagoggend ‘n oproep ontvang dat sersant Bileur “Billy” Hoffmann (39) sy vrou, Carmen Rossouw (32), doodgeskiet het. Hy het hierna ook ‘n ander man geskiet en die toneel verlaat.
Dit het later aan die lig gekom dat hy selfmoord gepleeg het naby die Carolusberg-pad, waar hy voorheen probeer het om sy eie lewe te neem. Hy het hom met sy eie dienspistool geskiet.
Die polisie het Carmen se selfoon by hom gevind, asook een magasyn met lewendige ammunisie en een patroondoppie. Op die moordtoneel, waar Carmen geskiet was, was drie patroondoppies en drie projektiele gevind.
Intussen is vasgestel dat Carmen drie keer geskiet is voor haar suster en haar vriende. Daar was ‘n koeëlwond aan haar regterskouer, regterheup en onder haar arm. Sy is op die toneel dood verklaar.
Haar suster, Lenay Rossouw, het hartseer gesê dat Billy onverklaarbaar in haar huis gekom het want dit was gesluit.
Billy Hoffmann en sy vrou, Carmen
“Toe ons sien was hy binnekant. Hy het eers die pistool teen iemand se kop gehou en gevra waar Carmen was. Toe Carmen tevoorskyn kom, het hy net losgebrand sonder om te praat. Hierna het hy nog ‘n persoon in die kop geskiet.”
Volgens haar het Billy toe na haar toe beweeg om haar ook te skiet. Gelukkig was ‘n toe skuifdeur tussen hulle en kon sy in die stort gaan skuiling soek.
Sy het ook vertel dat Carmen nie in ander verhoudings betrokke was nie. En dat die 24-jarige man nie haar lover was nie soos gerugte die rondte doen. Dié persoon was toevallig die aand deel van ‘n groep ander kuiergaste by haar huis.
Dié persoon is tans kritiek nadat hy in die Springbok-hospitaal opgeneem was. Hy is later oorgeplaas na ‘n hospitaal in Upington.
Carmen se pa, Paul Rossouw (ook ‘n polisie-lid), was baie hartseer oor haar dood. Volgens hom was die twee se paaie in elk geval besig om te skei. Ongelukkig het die dood dit nou verhaas.