Skip to main content

Lede van SAPD Eersterust het op Woensdag twee verdagtes, onderskeidelik 29 en 30 jaar oud, blitsvinnig gearresteer na ‘n vragmotorkapingsvoorval wat op Hans Coverdale-Oos plaasgevind het.

Volgens ‘n voorlopige verslag was ‘n afleweringsvragmotor op pad om 13 matrasse af te lewer toe dit deur ‘n voertuig met vier onbekende manlike insittendes onderskep is. Die vier verdagtes het die trok genader, met vuurwapens die vragmotor gevat, en weggejaag. Die drie afleweringsmanne is agtergelaat.

Lede van SAPD Eersterust was op ‘n roetine-misdaadvoorkomingspatrollie toe hulle verby die gestrande slagoffer gery het en dadelik die area vir die verdagtes gesoek het.

Die SAPD-lede het die gekaapte vragmotor blitsvinnig uitgeken en ‘n jaagtog het gevolg. Die vragmotor is kort daarna deur die polisie onderskep. Twee verdagtes is aangekeer, terwyl die ander twee daarin geslaag het om van die toneel te vlug. Die polisie het beslag gelê op ‘n ongelisensieërde vuurwapen en ammunisie wat in die verdagtes se besit gevind is.

Die 13 matrasse is ook teruggevind nadat die twee verdagtes die SAPD-lede na die plek geneem het waar dit afgelaai is.

Die twee verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn terwyl verdere ondersoek aan die gang is.

Leave a Reply