Die DA sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se besluit om ‘n kettinggroep bakkerye te begin is nie net bisar nie, maar moet ook dringend ondersoek word.
Die DA-woordvoerder oor verdediging, Kobus Marais, sê hy het ‘n skriftelike beroep op die Minister van Verdediging en Militêre Veterane gedoen om die bewerings te ondersoek. Sy reaksie volg op verskeie berigte die afgelope paar weke dat die SANW die bakkery-kettingroep begin het om soldate te help voed en ook om die weermag se geldkoffers aan te vul.
Marais meen dit kan neerkom op selfs meer onreëlmatige en vermorste uitgawes vir die reeds geldelik sukkelende weermag. Hy sê die besluit lig weer eens die gebrek aan strategiese denke en toekomsvisie in die weermag se leierskapgeledere uit.