Motoriste is goed die hoenders in nadat die petrolprys om middernag deur die R20 per liter gebars het.
Die gemiddelde prys vir ‘n liter 93-oktaan loodvrye petrol was verlede jaar R14,50. Nou is dit R20,30.
Die Waarheid het met ‘n paar motoriste gepraat en hul mening oor die brandstofpryse gekry.
“As ‘n eksterne verteenwoordiger ry ek ten minste 1 000 km per week. Al word petrol deur my maatskappy gedek, stoot dit my aftrekbare onkostes op – oor die laaste paar maande het dit van R3 000 tot R4 000 gestyg,” sê Maxine Adamson, ‘n bestuurder by Engen Rabie Street Convience Centre.
“In my bedryf maak ons staat op logistiek en sukkel om ons pryse vir ‘n maand te belowe wanneer vervoerkoste so onverwags opskiet.”
‘n Ander motoris, Stephanie Burger, het die volgende gesê: “Ek huil! Daarna braak ek in my masker en dan moet ek maar betaal, bloedgeld! Dis vreeslik duur.”
“Dit is ‘n gemors, hulle is besig om die mense deur die ore te werk. Die taxi’s kry subsidie van die staat so hulle sê niks nie, die res van ons moet maar net betaal,” sê Suzanne Janse van Rensburg.
Martin Bezuidenhout se hy gaan maar moet begin loop.
“Dit is baie sleg vir die tyd waarin in ons is. Dit maak dat mense net meer swaarkry,” se Alicia van der Walt.
Foto: Motoriste staan tou om op die laaste nippertjie nog minder as R20 per liter te betaal.