Skip to main content

Die VF Plus verwelkom die feit dat ʼn verhoogde inperkingsvlak nie aangekondig is nie, want weens die omvangryke skade aan die land se ekonomie weens vorige onnodige streng inperkingsregulasies, kan dit nie bekostig word nie.

Dit was vandeesweek duidelik uit die desperate oproepe van onder meer die drankbedryf, dat verdere inperkings katastrofiese gevolge sou hê.

President Cyril Ramaphosa se ernstige beroep op lande wat ’n reisverbod na Suid-Afrika ingestel het, het dit ook duidelik gemaak dat selfs die ANC-regering nou besef dat verdere skade aan die ekonomie nie bekostig kan word nie.

Dit is nogtans jammer dat die president groot onsekerheid geskep het oor die onmiddellike toekoms deur sy uitlating dat die Covid-bevelsraad weer binne ’n week gaan vergader om die ontvouende gebeure rondom die pandemie te bespreek.

Die herinner aan verlede jaar toe strenger inperkings in Desembermaand aangekondig is nadat mense reeds vakansiereëlings getref het of reeds met vakansie was. Daar moet so gou as moontlik duidelikheid hieroor gegee word.

Die VF Plus stem saam dat daar aanvaar moet word dat die Covid-19-virus voortaan ’n deel van die menslike bestaan gaan wees en dat maniere gevind moet word om daarmee saam te leef en te oorleef.

In hierdie verband is dit belangrik dat ’n balans gevind word tussen ’n nuwe normale voortbestaan en die red van lewens. ’n Nuwe en groter fokus op kliniese behandeling en ’n omvattende inentingsveldtog is daarom belangrik.

In hierdie verband is die VF Plus se mening dat gedwonge inentings nie die gewenste reaksie sal hê nie en eerder tot weerstand kan lei.

Inentings moet ’n vrye wilsbesluit wees en goeie kommunikasie met ’n doeltreffende veldtog om mense te oorreed en te motiveer om te ent, sal veel eerder ’n positiewe uitkoms bied in die stryd teen Covid-19.

Leave a Reply

error: Content is protected !!