Skip to main content

Skole moes die afgelope 21 maande geweldig sukkel om aan te pas by die uitdagings van Covid.

“Ek dink hoër skole het dit selfs moeiliker as laer skole, want laer skole het nie die stres van kinders wat siek word en moet isoleer nie.” Sê mnr Buckie King, die Adjunkhoof by die Hoërskool Kempton Park.

Hierdie skool het baie gevalle gehad in wat nou amper 2 jaar is. “Dit is meer as wat ek nou kan tel, maar in die derde kwartaal het ons 531 isolasiegevalle gehad en ná die Junie-vakansie het ons 66 positiewe gevalle gehad, waaronder sewe personeellede was.”

Wonderboom Hoërskool het gelukkig minder Covid-19 gevalle gehad. “Ons het omtrent een of twee gevalle weekliks gehad, maar daar is geen bevestige oordrags gevalle in ons skool nie.” Se Marius Lezar, die Hoof by Wonderboom Hoërskool. “Dit is wel ‘n uitdaging om seker te maak al die kinders dra hulle maskers.”

Die Hoërskool Hans Moore se gevalle was ook redelik hoog, tot op ‘n punt waar hul die skool vir vier dae moes sluit. “Ons het wel ‘n ouer gehad wie se besigheid die hele skool kom ontsmet het,” vertel die bemarkingsbestuurder by Hans Moore, Annerie van Wyk.

Een van die mees uitdagende dinge vir Kempton Park Hoërskool was dat die kinders nie meer ‘n roetine het nie. “Om skool toe te gaan en dan een dag af te hê, maak alles deurmekaar. Die onderwysers en kinders is gestres en wat dinge vererger, is die feit dat kinders nie meer ’n uitlaatklep soos sport het nie,” het mnr King gesê.

Daar moes baie verandering gemaak word in skole weens Covid-19, en al dink ‘n mens nie nou aan ‘n ‘post Covid’ tyd nie gaan daar wel so tyd kom.

“Daar is ‘n paar goed wat ons graag wil behou wanneer die alles verby is. Ons het baie meer gevorderde tegnologie begin gebruik en dit was tot ons voordeel.” Het meneer King aan Die Waarheid gesê.

“Dit het ons ouer onderwysers die kans gegee om baie vinnig te groei en te leer. Ons het ook nuwe gesigsherkenningstoestelle by ons hekke begin gebruik wat aanteken watter studente inkom en dit neem outomaties hul temperatuur.

“Ons sal aanhou om hierdie funksie te gebruik, want dit help ons om maklik tred te hou met wie en wanneer hulle inkom.”

“Die ander ding wat ons wil behou, is die higiëne in ons skool. Dit het dramaties verander in hoe gereeld die kinders hul hande was, die skool is baie meer sanitêr. Ja, dit het ons ’n bietjie meer gekos deur seephouers vir elke badkamer aan te skaf, maar dit het ’n positiewe uitwerking op almal gehad.”

Alhoewel tegnologie in die guns van die skole getel het, het dit ook sy nadele gehad. “Kinders wat nie wifi het nie en van data af moet werk sukkel met hul aanlynklasse, ons moet weekliks die werk afrol en kinders wat dit nodig het moet dit by die kantoor kom haal.” Se mnr Lezar.

Mnr Lezar het gese dat die klasse wat kleiner geword het iets is wat hul permanent wil maak. “Gewoonlik was dit so 35 kinders in ‘n klas, maar nou is dit 23 tot 25 en dit maak dinge baie makliker vir die onderwysers.”

Met sosiale distansiëring is daar baie tradisies wat weggeval het in skole. Mnr Lezar se dat hul dinge soos die oggendopening en prysuitdelingseremonies mis. “ Dit is dinge wat uniekheid aan ‘n skool bring wat gemis word.”

“Ek sal nie se ons is ‘bang’ vir die toekoms nie, maar die vrees vir die onbekende is natuurlik daar. Se mnr King.

Hoërskool Kempton Park is dalk nie bekommerd nie maar Hoerskool Hans Moore is wel, maar hulle dink wel die skool is meer voorbereid as wat hulle aan die begin van Covid-19 was.

“Ons motiveer maar net ons studente om versigtig te wees en hulself op te pas.” Sluit mnr Lezar af.

 

Leave a Reply