Die gebruik dat munisipale amptenare wat van korrupsie of wanbestuur verdink word en bedank wanneer die druk vir aanspreeklikheid te veel word om bloot in ’n ander goedbetaalde regeringspos in te stap, is moontlik iets van die verlede.
Volgens ’n beoogde gewysigde wetsontwerp kan amptenare moontlik eersdaags direk verantwoordbaar gehou word vir swak besluite of wanbestuur.
Die Suid-Afrikaanse munisipale werkersunie (Samwu) het die minister van samewerkende regering in 2016 in die hof uitgedaag oor die bestaande wetgewing dat munisipaliteite doeltreffend moet funksioneer. Dit het daartoe gelei dat die parlement sedert 2019 bykomende wetgewing bepaal het om seker te maak dat munisipale amptenare aan munisipale bestuurders verantwoordbaar is en dat munisipale bestuurders vir die totale bestuur van ’n munisipaliteit verantwoordelik is.
Die wysigingswetskonsep is daarop gemik om toe te sien dat munisipale bestuurders oor die nodige kwalifikasies moet beskik. Indien die persoon nie aan die vereistes voldoen, soos die stelselwet voorskryf nie, is hul aanstelling onwettig.
Die portefeuljekomitee het aangevoer dat munisipaliteite in die verlede kandidate aangestel het wat nie noodwendig oor die nodige kennis en vaardighede beskik het om hierdie komplekse taak te verrig nie en was hulle dus nie ingestel op ’n kultuur van dienslewering nie.
Die gewysigde wetsontwerp lui voorts dat enige amptenaar wat geskors is weens finansiële wangedrag, korrupsie of bedrog, vir tien jaar daarna nie in enige pos in die staatsdiens heraangestel mag word nie.
Die vereiste dat aansoekers oor die nodige kwalifikasies moet beskik, is slegs van toepassing op nuwe aanstellings. Die amptenare wat tans in poste aangestel is, sal hul poste behou.
Politieke inmengery in munisipale rade word ook aangespreek. Volgens die gewysigde wetsontwerp mag munisipale bestuurders en amptenare nie enige rol in partypolitiek beklee wanneer hul in poste aangestel is nie.
Die onreëlmatige aanstelling van amptenare sal ook gestaak word. Munisipale rade sal slegs aanstellings kan maak wat binne die goedgekeurde struktuurwet en binne die munisipaliteit se kapasiteitsvermoë is. Kontrakte wat buite hierdie riglyne val, sal onwettig wees.
Indien amptenare of raadslede hul skuldig maak aan ongerymdhede, moet dit onder die aandag van die provinsiale LUR gebring word. Indien die LUR nie optree nie, kan dit onder die provinsiale minister se aandag gebring word wat dan ’n ondersoek na wanadministrasie, bedrog en korrupsie moet aanvra.