Skip to main content

ISAAC CLOETE

“Ons vee is in net so ‘n goeie toestand daarom staan ons vir niemand meer terug nie.”

So praat oom Sammy Engelbrecht, voorsitter van die nuwe  Bulletrap Veeboere-vereniging (BVV) in Namakwaland. Bulletrap is ‘n piepklein plekkie, naby Springbok, waar bruin veeboere al vir jare sukkel om kop bo water te hou.

Engelbrecht het vreesloos gesê: “Ons lewende hawe is net so goed soos die lede s’n van die gevestigde boere-verenigings. Ons kyk ook met groot liefde na ons diere daarom is hulle in dieselfde toestand as die van ander. Dus moet niemand weer op ons neerkyk nie.”

Saterdag het hulle ‘n historiese en ook eerste veeboeredag hier gehou.Dit was sodat die wêreld kennis moet neem van hulle en ook om fondse in te samel vir die veeboere.

Die veeboere sukkel veral met die aankoop van veevoer, weens die knellende en langdurige droogte. Behalwe dit sukkel hulle met fondse en sekere plaas-implemente wat veeboerdery betref, volgens Engelbrecht.

“Ons sukkel verskriklik met veevoerskenkings of droogtehulp. En as dit nog beskikbaar is, word dit nie eweredig verdeel en versprei nie. Ons bly suig nog steeds aan die agterste speen.”

Saterdag se opelugdag het alle verwagtinge oortref ten spyte van dreigende reën en n pandemie. Hier het die plaaslike langarm band, Smart Vision, al  van vroeg af die mense se lywe (en harte) warm gespeel.
Die dag was een van verkope van tradisionele “eet en drinke”  soos roosterbrood, gebraaide slagvleis en selfs tuisgemaakte gemmerbier.

Die BVV bestaan uit 36 lede wat binne ‘n radius van 80km van af Bulletrap woon, luidens hulle grondwet. Die vereistes sal later uitgebrei word sodat ander lede binne die Nama Khoi-area kan aansluit, vlens Engelbrecht.

Die nuutverkose burgemeester van die Nama Khoi munisipaliteit op Springbok, dr Gustav Bock, het ook onverwags sy opwagting daar gemaak. Hy het die inisiatief geloof en was bly dat hulle nou beter georganiseerd is. Hy het hulle aangemoedig om die vereniging uit te brei na die opkommende veeboere van die breë Namakwaland.

Hy het gesê: “Ek is baie bly dat julle georganiseer het, derhalwe hoef ek nie nou te sukkel om mense  bymekaar te kry nie.Dit maak dit dus vir my makliker om te help vanaf die owerhede se kant. En ek dink dit is n seëning en ‘n voorreg om nou saam met julle te werk.”

Engelbrecht het ten slotte vertel dat hierdie dag voortaan n jaarlikse instelling gaan wees.

Leave a Reply

error: Content is protected !!