Die meedoënlose pogings van die polisie om te verseker dat slagoffers van geslagsgebaseerde geweld en vrouemoorde geregtigheid kry, gaan voort om vrugte te lewer.
‘n 55-jarige vrou het vandeesweek lewenslange tronkstraf gekry omdat sy ‘n 21-jarige verstandelik gestremde man by sy huis in Krugersdorp verkrag het.
Die vrou is gehuur om ‘n versorger vir die slagoffer te wees. Sy het die slagoffer verkrag en hom seksueel aangerand terwyl die ouers nie tuis was nie. Die saak is deur ‘n buurman aangemeld nadat die slagoffer hom van sy beproewing vertel het.
Sy is deur die Krugerdorpse streekhof skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf vir verkragting en ses jaar vir seksuele aanranding gevonnis. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.
Name word nie genoem nie om die slagoffer se privaatheid te beskerm.
In ‘n ander voorval is die 30-jarige Ntshabeleng Graider Komane tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die verkragting van ‘n 22-jarige vrou.
Komane het die slagoffer in Augustus 2021 versoek om hom na sy vriend se huis by Etwatwa te vergesel. Met hul aankoms by die plek was daar niemand nie. Komane het die slagoffer in die huis gedwing waar hy haar met ‘n mes teen haar keel verkrag het.
Hy is skuldig bevind en op 24 November 2021 deur die Benoni-streekhof gevonnis.
Die provinsiale kommissaris in Gauteng, luitenant-generaal Elias Mawela het die ondersoekbeamptes geloof vir die puik ondersoeke wat verseker het dat oortreders agter tralies bly.