David Nabarro, die Wêreldgesondheidsorganisasie se spesiale gesant oor Covid-19, het vandag gesê daar is rede om bekommerd te wees oor die nuwe koronavirus-variant wat in Suider-Afrika versprei.
Hy meen die nuwe variant kan enige beskerming wat inentings gee, omseil.
Brittanje het gister gesê die nuwe variant word deur wetenskaplikes beskou as die belangrikste een wat nog gevind is. Daar moet nog finaal vasgestel word of dit entstowwe ondoeltreffend maak of nie.
Wetenskaplikes probeer nog vasstel of die nuwe variant, genaamd B.1.1529 (hy sal na verwagting oor die volgende paar dae ‘n Griekse naam kry), meer oordraagbaar of dodeliker is as voriges, maar dit het wel die meeste mutasies van enige stam wat nog geïdentifiseer is.
Dit het kommer in Suid-Afrika en internasionaal laat ontstaan, met owerhede wat ‘n vlaag gevalle vrees wat die druk op reeds uitgedaagde gesondheidsorgstelsels kan verhoog.
President Cyril Ramaphosa het intussen bekendgemaak hy sal Sondag die Nasionale Koronavirus-bevelsraad (NCCC) byeenroep om ontwikkelinge in die Covid-19-pandemie te evalueer, insluitend wetenskaplike opdaterings oor die nuutbespeurde koronavirus-variant.
Intussen lyk dit of die regering, anders as wetenskaplikes regoor die wêreld, glad nie twyfel oor entstowwe se effektiwiteit teen die nuwe virus nie – hulle het Suid-Afrikaners vanoggend in ‘n verklaring versoek om waaksaam te bly teen Covid-19 en hulle te laat inent “om hul rol te speel om hulself en die breër gemeenskap te beskerm”.