Skip to main content

Die vinnige reaksie van die Wes-Kaapse polisie het gelei tot die arrestasie van drie verdagtes kort nadat ‘n vragmotor in Mbekweni gekaap is.

Die trok, ‘n vleisafleweringsvoertuig, is Woensdag omstreeks 14:20, in Mbekweni, Paarl gekaap deur drie onbekende gewapende kapers wat geld en selfone van die werkers geëis het. Die verdagtes het ‘n koevoet gebruik om ‘n kluis met kontant uit die vragmotor te verwyder, waarna hulle in ‘n wit VW Polo van die toneel gevlug het. Die bestuurder van die vragmotor het die verdagtes ná die voorval gevolg en polisiebeamptes, wat die gebied patrolleer, gesien en hulle deur middel van handseine gewaarsku.

Terwyl hulle deur die polisie agtervolg is, het die verdagtes hul voertuig gestop en te voet gevlug. Lede van die Mbekweni-misdaadvoorkomingseenheid het hulle met die hulp van die Boland K9-eenheid agternagesit en daarin geslaag om al drie verdagtes vas te trek. Daar is beslag gelê op twee vuurwapens wat tydens die kaping gebruik is en die kluis. Daar is ontdek dat die voertuig wat gebruik is om die misdaad te pleeg, verband hou met ‘n Bishop Lavis-kapingsaak.

Drie verdagtes tussen 28 en 41 jaar oud is in hegtenis geneem op aanklagtes van kaping en die besit van ongelisensieërde vuurwapens en sal in die Paarl-landdroshof verskyn.

Leave a Reply

error: Content is protected !!