Skip to main content

 

In ‘n vraag-en-antwoordsessie in die nasionale vergadering het president Cyril Ramaphosa die standpunte ingeneem wat die VF Plus reeds etlike jare bevorder. Hoewel die party graag sal glo dat die president na hom geluister het, is die werklikheid waarskynlik dat hy bloot dieselfde werklikheid raaksien – hoewel veel later, lui ‘n mediaverklaring deur Dr. Wynand Boshoff

Hoewel die president niks nuuts gesê het nie, het hy die onderwerp omvattend en volledig behandel. Die probleme van Eskom met betrekking tot die staatsonderneming se skuldlas, verouderde kragsentrales, die gevare verbonde aan ‘n monopolie in kragvoorsiening, klimaatsverandering, die rol van hernubare bronne, kontrakte vir noodkragvoorsiening en die maatskaplike gevolge van die uitfasering van steenkoolkragsentrales, het alles aan die bod gekom.

Die agtergrond is dat die ANC-regering sedert 1994 hardnekkig aan die beginsel van ‘n enkele staatsonderneming met ‘n elektrisiteitsmonopolie vasgeklou het en regulering gebruik het om markkragte in die energiesektor teen te werk.

Na etlike jare van beurtkrag en plundering van Eskom, het die regering klaarblyklik tot die gevolgtrekking gekom dat Eskom nie in onveranderde vorm gered kan word nie, dat hernubare krag wat deur die private sektor gefinansier word die Suid-Afrikaanse ekonomie kan red en dat die land nie kan bekostig om een van die wêreld se top-besoedelaars te bly nie.

Hierdie gevolgtrekking het die regering gedwing om van koers te verander. Eskom sal met ander kragvoorsieners moet kompeteer en hernubare energie is ‘n wesenlike deel van die geïntegreerde energieplan (IEP).

Die nuwe rigting hou egter politieke risiko’s in. Groot kapitaal- sowel as arbeidsbelange is in die steenkoolekonomie gevestig. Dit is waar die begrip van ‘n regverdige oorgang vandaan kom; ‘n oorgang wat die regering hoop internasionaal gefinansier sal word.

Tydens die debat is geldige vrae gevra oor die regverdigheid daarvan dat die wêreld se meer ontwikkelende lande deur eeue se besoedeling vir klimaatsverandering verantwoordelik is, maar dat minder ontwikkelende lande die oorwig van gevolge dra. Dit is waarom dit nie onbillik is dat Suid-Afrika internasionale hulp in die verband ontvang nie.

Die klem is op heropleiding van werkers en die aanpassing van aanlegte om deel van die nuwe energie-ekonomie te wees. Dit sal nie alleen werkers bystaan nie, maar hele gemeenskappe red.

‘n Vals noot in die president se antwoorde is ‘n sterker verbintenis tot steenkool as wat geregverdig is. Om aan te voer dat die land nog lank steenkool gaan verbrand omdat die reuse steenkoolkragsentrales van Medupi en Khusile gebou is, is om goeie geld agter slegtes aan te gooi.

Verdere belegging in hierdie oor-begroting en agter-tyd aanlegte kan eerder in navorsing oor die waterstof-ekonomie belê word – iets waarna die president ook gunstig verwys het.

Die gevolgtrekking is dat die regering tans raaksien wat die VF Plus reeds vir ongeveer ‘n dekade bepleit: Dat Suid-Afrika van vuil, gesentraliseerde kragvoorsiening oorbeweeg na ‘n skoon, gedesentraliseerde bedeling. Die land het die vernuf en hulpbronne om hiervan ‘n sukses te maak.

Miskien is een rede waarom die regering so huiwerig is om van die ou energiebedeling af te sien, die onafwendbare politieke gevolge daarvan. Dit is reeds ou nuus dat die middelpuntsoekende kragte in Suid-Afrika baie swak is en dat die land deur drade – kragdrade – aanmekaar gehou word.

Vir die VF Plus, wat aan vrede en ekonomiese groei deur selfbeskikking glo, skep die nuwe energiebedeling groot moontlikhede.

 

 

Leave a Reply