Skip to main content

Feestyd is om die draai en dit beteken vuurwerk.

Ons sien elke jaar plasings op Facebook en boodskappe op WhatsApp’s wat almal vra om aan die diere te dink voordat hulle vuurwerk afskiet om Kersfees en Oujaarsaand te vier.

Die Waarheid het met die Boksburg DBV gesels om wenke te kry sodat lesers so dierevriendelik as moontlik kan optree.

“Honde en katte is oor die algemeen bang vir vuurwerk, aangesien hulle baie sensitiewer gehoor het as mense. Hulle neem die knalle baie meer intens waar,” sê Sue Baedon, sekretaresse by die Boksburg DBV.

“Die meeste beserings word veroorsaak deur honde in paniek wat byvoorbeeld deur glasvensters spring of wat op palisades vassit. Meeste van die diere kom uit en hardloop verward weg van hul huise af.

“Na feesdae soos Guy Fawkes, Diwali of Nuwejaar, wat tradisioneel met vuurwerk gevier word, is daar ‘n toestroming van verdwaalde diertjies wat na veeartse en DBV’s gebring word.”

Sue vertel het hoe bye gedisoriënteerd raak en nie terug keer na hul korwe toe nie. Voëls kry paniekaanvalle wat massadood tot gevolg het. Wilde diere wat werpsels grootmaak, verlaat hulle blyplekke uit vrees en visse sterf wanneer hulle vuurwerkrommel inneem.

“Dit is verskriklik hartseer om te dink wat die paar minute se vermaak aan al hierdie geliefde diere doen,” sê Sue.

Maar natuurlik is daar voorsorgmaatreëls wat jy kan tref om jou troeteldier teen vuurwerke te beskerm. Die Boksburg DBV stel die volgende voor:

  • Bespreek kalmerende medikasie met jou veearts.
  • Bring al jou troeteldiere voor die tyd binne toe en maak seker daar is geen manier vir hulle om uit te kom en weg te hardloop nie.
  • Maak jou gordyne toe en speel musiek om die klank van vuurwerk te verbloem.
  • As jy buitetroeteldiere soos hoenders en konyne het, bedek hulle slaapplek gedeeltelik en voeg meer beddegoed by sodat hulle kan wegkruip.
  • Jy kan jou troeteldiere troos of hulle alleen los iewers waar hulle kan wegkruip.

Sue voeg by, “die beste opsie is om jou troeteldier nou te mikroskyf. As hulle uitkom, is die kanse om herenig te word baie groter.”

Om ‘n dier met vuurwerke te beseer, sal tot vervolging lei. Die Boksburg DBV vra dat as jy wreedheid teenoor diere aanskou, jy asseblief jou naaste DBV sal kontak.

Leave a Reply