Skip to main content

SONJA BROWN

New Material, ‘n rolprent oor ‘n baie geliefde karakter, Cassim Kaif, het gisteraand met klinkende simbale in ‘n spogseremonie te Galleria en NuMetro by Emperors Palace geopen.

Uitgenooide gaste, geklee in hul beste uitrustings, kon vir ‘n uur lank skouers skuur met die sterre in die fliek.  Heerlike peuselhappies en kelnerinne wat soos miere rondgeskarrel het, kon nie keer dat sommige gaste oopmond na die verwikkelinge staar nie.

Bekendes het sonder pretensie tussen die gaste rondbeweeg. Riaad Moosa, ‘n bekende op die komediantverhoog, Joey Rasdien, Zakeeya Patel en Schalk Bezuidenhout het heel gemaklik vir selfies saam met fliekgangers geglimlag.

Na die ‘meet and greet’ sessie kon die gaste, nes beroemdes in Hollywood, oor ‘n rooi tapyt na die NuMetro teater stap om die fliek te gaan kyk.

Daar kon hulle ander bekendes wat in die fliek speel ontmoet. Vincent Ebrahim, Shashi Naidoo, Denise Newman, Rajesh Gopie en Kurt Schoonraad het saam met die hoofspelers hul rolle uitmuntend vertolk.

Die fliek het verskeie emosies in die kykers ontlok. Daar was lagsessies, plekke waar mense trane in die donker afgevee het, en ook stil, weersinwekkende nabetraging oor Distrik Ses se gebeure.

New Material word vervaardig deur Ochre Moving Pictures en Blu Blood Africa en word deur Indigenous Film Distribution versprei.

Leave a Reply

error: Content is protected !!