Dwelmhandel in die Wes-Kaap het ‘n terugslag gekry met die arrestasie van ‘n verdagte wat gisteraand in Worcester met ‘n aansienlike hoeveelheid mandrax-tablette aangekeer is.
Lede van die Breederivier K9-eenheid het gereageer op inligting wat deurgegee is, dat ‘n wit Mercedes Benz Vito-bussie met dwelms na Kaapstad op pad was, wat waarskynlik vir die vakansieseisoen bestem is. Die voertuig is gestop en is deur Snoekie een van die SAPD snuffelhonde en haar hanteerder deursoek.
Snoekie die snuffelhond het positief gereageer op dwelms in ‘n verseëlde kompartement wat toe gelei het tot die ontdekking van 20 000 mandrax-tablette met ‘n geraamde straatwaarde van R800 000-00. Die bestuurder van die voertuig, ‘n 51-jarige man van Welgelegen, is gearresteer en sal aangekla word vir besit van dwelms.