Skip to main content

Isaac Cloete

Twee buitengewone koalisievennote het besluit om eerder te deel.

Hulle is die Demokratiese Alliansie (DA) en die nuwe jong Namakwa Civic Movement (NCM) op Springbok. Na vele en deeglike onderhandelinge het die twee partye uiteindelik besluit om die ANC uit die Nama Khoi munisipaliteit (NKM) hier te onttroon.

Die ANC was ook voorheen hier in ‘n ietwat gedwonge koalisie met die onbekende en wankelrige KhoiSan Revolusieparty. Die DA was toe die amptelike opposisie.

Verlede Vrydag sou die amptelike inswering van NMK se raadslede plaasvind. Dit was egter onverwags en op kort kennisgewing uitgestel.

Die rede wat toe aangevoer was hiervoor is dat die twee koalisievennote nog besig was om sekere sake uit te pluis, veral ten opsigte van onder andere sleutelposte soos dié van die burgemeester en speaker.

Die afgelope naweek was dit uitgepluis en Dinsdag het die inswering uiteindelik te Concordia gebeur. Hier moes die publiek verneem dat dr Gustav Bock (stigter van die NCM) aanvanklik die burgemeesterspos gaan behartig. Rodney Kritzinger (DA) sal aanvanklik die speakerspos hanteer.

Tydens die inswering, behartig deur die bekende oud-prokureur, storieverteller en grapjas Arno van Zyl, het Bock die sluier laat lig oor die samewerkingsooreenkoms.

Hy het gesê: “Ons sal alles met opregtheid aanpak. Nama Khoi munisipaliteit moet tot sy volle potensiaal benut word ter wille van dienstelewering. Ons is nie hier om rond te sit nie. Kostebeheermaatreëls sal ook in plek gesit word. Ons gaan beslis korrupsie in hierdie entiteit ontwortel. Asook die wanbestuur van fondse van ons mense.”

Voorts het hy gesê dat hulle ook sal strewe na skoon oudits. Verder sal hulle die mense bewys dat die koalisie een is van goue standaarde.

Hy het verder gesê dat die koalisie besluit het om die burgemeester- en speakersposte te deel vir die volgende vyf jaar. Bock sal die eerste 30 maande die burgemeester wees en Kritzinger die speaker. Daarna sal die rolle omgedraai word totdat die koalisietermyn na vyf jaar om is.

Kritzinger het gesê dat die koalisie eintlik ‘n nuwe vriendskap is in plaas van ‘n politieke ooreenkoms waar posisies ter sprake is. Hy het gesê: “Dit was ‘n lang proses en daarvoor bedank ons die gemeenskappe vir hulle geduld. Ons is in ‘n mooi vriendskap en dié koalisie het daardie vermoë om daadwerklike veranderinge aan te bring.”

Leave a Reply