Skip to main content

Die water in die Petdam in Ermelo het positief getoets vir E.Coli en fekale koliforme.

Jare lange klagtes van verstopte dreine, partytjiegangers wat die dam as ’n badkamer gebruik, asook die morsjorse wat hulle rommel daar stort, het nog altyd op dowe ore geval.

Inwoners het die afgelope tyd op sosiale media hul misnoeë oor die ondraaglike reuk van riool wat rondom die Petdam in die lug hang, bespreek.

Ná die onlangse geval waar ’n mangat oorgeloop het en riool onverpoosd in die dam ingevloei het, is daar ’n watermonster na die Regen Waters Laboratorium gestuur.

Die uitslae het aangedui dat die water nie veilig vir menslike gebruik is nie en die aanbevelings was dat die bron van die besoedeling ondersoek moet word.

Die gebruik van chloor om totale ontsmetting van die water te bewerkstellig, is aanbeveel.

Volgens die verslag van die laboratorium is daar gevind dat die perke wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde (SANS) bepaal is, oorskry word.

Totale fekale koliforme (>10) en heterotrofiese plaattelling (HPC) (>1240) oorskry die beperkings van onderskeidelik 0 en 1 000 wat deur SANS 241:2015 bepaal word.

Die verslag lui: “Die drinkwatermonster het positief getoets vir patogeniese bakterieë (E. coli/fekale koliforme bakterieë). Hierdie bakterieë is siektevormend en die watermonster dui daarop dat dit nie veilig vir menslike gebruik is nie.”

Die Msukaligwa Plaaslike Owerheid het intussen besluit, nadat riool uit dié drein vir meer as twee weke in die dam gestroom het, om die blokkasie te ondersoek. Komberse en ander voorwerpe is uit die drein verwyder.

Leave a Reply