Skip to main content

Dit het reeds die wenkbroue laat lig toe Pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar in die donkerste dae van die Covid-19-inperking skielik ‘n aanval van besorgdheid oor geslagsgeweld begin kry het.

“Dis net om die aandag af te lei van die R500 miljard wat sy kaders gesteel het,” het mense links en regs gefluister.

Nou kom dit aan die lig dat die regering witheid as ‘n groter misdaad as geslagsgebasseerde geweld beskou. ‘n Nasionale instansie wat mishandelde vroue en kinders help, kry nie ‘n sent van die regering af nie, want hulle is te wit.

Geweld teen vroue en kinders is ‘n geweldige probleem, soos jy tereg in jou nuusbrief sê, meneer die president. Maar dit gaan g’n aks verander so lank jy eenvoudig alle mans in hierdie land oor die kam van vroueslaners probeer skeer nie.

Verreweg die meeste van ons is vreedsame mense met baie respek vir die geweldige bydrae wat vroue tot ons gemeenskap lewer – anders as jou eie ANC se adjunkminster Mduduzi Manana, wat twee vroue in 2017 in ‘n nagklub aangerand het.

Die polisie is besig om die stryd teen geslagsgeweld te verloor en die regstelsel maak nie hond haaraf om die probleem te verminder nie. Kader-ontplooiing, waarvan jy ‘n uitgesproke voorstander is en dit aktief as leier ingestel het, speel ‘n tamaai rol in die staat se hulpeloosheid om die kwessie hok te slaan.

Die feit dat jou kaders die land bankrot geplunder het, beteken ook dat ons nie die hulpbronne het om die krisis behoorlik te takel nie.

Meneer Ramaphosa, hou op om die vinger na ons mans te wys wat ons vroulike medemens respekteer en in liefde en geweldloosheid met hulle wil saamleef en erken jou eie party en regering se aanspreeklikheid vir die betreurenswaardige posisie waarin Suid-Afrika sit.

Ons is ‘n geweldbesmette samelewing. Geweld is die groot siekte van ons tyd – nie net geslagsgeweld nie. Dit sluit plaasaanvalle in, waar vroue ure lank gemartel en verkrag word, waarna jy met ‘n sedige gesig in die VN gaan vertel dat sulke aanvalle nie bestaan en daardie geslagsgeweld net denkbeeldig is nie.

Meneer die president, die geskiedenis het die nare manier om mens te onthou vir die foute wat jy maak, nie die goeie goed wat jy doen nie, soos ons na die onlangse afsterwe van oudpres. FW de Klerk gesien het. Ons onthou oudpres. Thabo Mbeki vir die meer as 300 000 mense wat danksy sy Vigs-ontkenning en beheptheid met knoffel en beet gesterf het, nie die goeie goed wat hy gedoen het nie.

Die Waarheid vrees die geskiedenis gaan jou etiketteer as die man wat waardelose lippetaal aan die edele doel van die uitwissing van geslagsgewild gebring het terwyl jou rampokkerregering dit onmoontlik maak om die probleem die hoof te bied.

Hou op vinger wys. Soos ons as kinders gesê het, drie vingers wys terug na jouself.

Leave a Reply

error: Content is protected !!