Twee verdagtes, 27 en 57 jaar oud, is Dinsdag deur die Valke vanuit die Port Shepstone Serious Organised Crime Investigation, bygestaan deur misdaadintelligensie, in hegtenis geneem vir die besit van en handel in olifanttande.
Daar word beweer dat die lede inligting ontvang het oor verdagtes wat olifanttande verkoop het. ’n Geheime-operasie is by Zimbali Eco Estate uitgevoer en lede het by die verdagtes se woning ingestorm. Gedurende die deursoek van die perseel het lede 1,3 kilogram ivoorstukke, 14 walvistande, 19 stukke spermwalvistande, vier ivoorkunswerke, twee seekoeitande, 47 ivoor eetstokkies en 15 olifanttande met die straatwaarde van ongeveer R400 000 gevind.
Die twee verdagtes is in hegtenis geneem en dienooreenkomstig aangekla. Hulle sal na verwagting vandag in die Kwadukuza-landdroshof verskyn.