Skip to main content

Die nuutverkose Kannaland munisipale raad, wat uit sewe raadslede bestaan, sorg vir ‘n opskudding sedert die inhuldiging van die lede.

Die Stadsaal in Ladismith was stil getuie van hoe die vier wyksraadslede en drie proporsionele verteenwoordigende (PR) raadslede, bestaande uit lede van die DA, ICOSA, ANC en KIP ingehuldig was.

“Die Raad neem besluite in terme van regulasies, asook in die prioritisering van infrastruktuurprojekte en toekomstige ontwikkelings en om te verseker dat beleggingsgeleenthede gevestig word om die munisipaliteit ‘n finansieël stabiele instelling te maak,” het die munisipaliteit vroeër in ‘n verklaring gesê.

Jeffrey Donson van die Independent Civic Organisation of South Africa (ICOSA) is tot burgemeester, en Werner Meshoe van dieselfde party tot onderburgemeester van Kannaland verkies.

Die verkiesing van beide Donson en Meshoe het ‘n bohaai op sosiale media veroorsaak.

Volgens die Daily Maverick is Donson in 2008 skuldig bevind aan een aanklag van onsedelike aanranding en sewe aanklagte van statutêre verkragting, met die aanklagte wat verband hou met ‘n 15-jarige meisie met wie hy ‘n seksuele verhouding gehad het terwyl hy burgemeester van Kannaland was. Terwyl sy appèl van die hand gewys is, is sy vonnis verminder tot ‘n opgeskorte termyn van gevangenisstraf, korrektiewe toesig, ‘n boete van R20 000 en ‘n rehabilitasieprogram vir seksoortreders.

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is Meshoe (50) in Januarie vanjaar deur die Ladismith-streekhof skuldig bevind aan bedrog en regsverydeling.

“Die Valke se Ernstige Kommersiële Misdaad-ondersoek in George het aan die lig gebring dat Meshoe valse reiseis ten bedrae van net meer as R4 000 ingedien het waarin verklaar word dat hy van 16 tot 21 Oktober 2016 ‘n vergadering in Kaapstad bygewoon het terwyl hy dit nooit gedoen het nie,” het die SAPD in ‘n verklaring gesê.

Hy is gevonnis tot ‘n boete van R6 000 of 18 maande gevangenisstraf vir bedrog plus vier jaar gevangenisstraf, beide opgeskort vir vyf jaar en 36 maande korrektiewe toesig (huisarres) vir regsverydeling.

Leave a Reply

error: Content is protected !!