Skip to main content

ISAAC CLOETE

Te midde van die snikhete atmosfeer het ‘n vretende skuldgevoel waarskynlik ‘n moordbeskuldigde laat knak.

Sy is die 31-jarige Suretha Brits, in die volksmond bekend as die Pofadder-monster, wat Maandag ‘n onverwagte bekentenis gemaak het vir die moord op haar man Leon. Net voor die hofverrigtinge begin het, was daar alreeds roeringe op die warm Upington (40°C) dat iets “vreemds” gaan gebeur.

Tydens die aanvang van die hofverrigtinge het Brits onmiddellik skuldig gepleit dat sy haar man, Leon Brits, se moord beplan het. In haar pleit het sy ook erken dat sy skuldig was aan roof met verswarende omstandighede. Die ander klagtes is teen haar teruggetrek.

Intussen gons dit orals oor Suretha se uiteindelike bekentenis. Baie glo dat advokaat Barry Roux haar oorreed het om die pleitooreenkoms aan te gaan. Roux het waarskynlik gesien dat sy geen kans het nie om los te kom. En dat sy ‘n “redelike” vonnis sou kry in plaas van lewenslank.

Sy gaan nou vanaf Maandag teen die ander twee medebeskuldigdes, Amatle Bareki (25) en Enrich Williams (35), getuig.

Intussen het ‘n voormalige werker wat vir die Brits-egpaar by die Pofadder-hotel gewerk het vertel dat geregtigheid nou geseëvier het. Sy het anoniem gesê:

“By die hotel gaan niks aan nie, daarom het ek geloop. Die boedel sal maar moet bepaal wat van hulle ander besighede gaan word en wie dit verder gaan bestuur.”

Van die ander inwoners voel tevrede met die vonnis en omdat sy nou ‘n geruime tyd agter tralies sal moet deurbring.

Vir die moord het  sy vir 25 jaar gekry  en vir die roof 15 jaar. Dit sal samelopend uitgedien word.  Suretha was duidelik moeg en afgemat en het saggies gesnik terwyl ‘n blou sakdoek die trane probeer keer het.

In haar pleitooreenkoms het sy aangedui dat Leon haar vir 15 jaar fisiek mishandel het. En ook gedwing het om op 15-jarige ouderdom ‘n aborsie te ondergaan.

Luidens die pleitooreenkoms was Leon glo té jaloers, manipulerend en seksueel-veeleisend. Net soos sy het Leon ook later ‘n buite-egtelike verhouding aangeknoop. Dit het hulle huwelik finaal op die rotse laat beland en onherstelbare skade aangedoen. Leon wou egter glo nie skei nie.

Ten, slotte het sy aangedui dat daar dus geen ander uitweg was nie om van Leon ontslae te raak. Dus het sy ‘n jare lange vriend van haar, Jacques van Vuuren, gevra om vir Leon “uit te haal.” Van Vuuren het toe vir Enrich Williams en Amantle Bareki gekry om vir Leon op 7 Oktober 2020 op Pofadder te vermoor.

Die regter was Mpho Mamosebo en die advokaat Hannes Cloete was die aanklaer.

Leave a Reply