Die gasvryheidsbedryf in Suid-Afrika sê die regering moet kyk na al die opsies voordat skadelike inperkingsregulasies weer oor Desember ingestel word.
Fedhasa, die nasionale handelsvereniging vir die gasvryheidsbedryf, het gewys op die regering se onlangse besluit om die nasionale ramptoestand tot 15 Desember 2021 te verleng as ‘n punt van kommer voor die besige vakansietydperk.
“Duisende (mense se) lewensbestaan is reeds verlore en elke dag word die bedrywighede van die gasvryheidsektor en sy uitgebreide voorsieningsketting deur regulasies ingekort. Meer lewensbestaan hang in die weegskaal,” het Rosemary Anderson, Fedhasa se nasionale voorsitter, gesê.
Sy het gesê Fedhasa doen ‘n beroep op die regering om alles te doen om te verhoed dat addisionele inperkings op die sektor opgelê word, veral oor die feesseisoen wanneer baie ondernemings sal probeer herstel van die verliese oor die afgelope 19 maande.
Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Saterdag (13 November) Suid-Afrika se nasionale ramptoestand met ‘n verdere maand verleng.
Dit sal dit die 21ste maand onder die ramptoestand maak sedert dit aan die einde van Maart 2020 verklaar is, en die 18de verlenging van die regulasies ná hul eerste eindlot van Junie 2020.