Die moordenaar en Paralimpiese held Oscar Pistorius brand dat sy slagoffer se familie hom vergewe.
Die Blade Runner, wat 15 jaar tronk toe gestuur is vir die moord op sy beeldskone blonde vriendin Reeva Steenkamp, het aan ‘n voormalige onderwyser Bill Schroder, wat hom ‘n paar keer in die tronk besoek het, gesê hy is desperaat dat Reeva se ouers sy verskoning aanvaar. (Die foto hierby is op 14 Februarie deur Capacity Relations vrygestel.)
Volgens die Britse poniekoerant Sun het Schroder vertel Oscar “is meer bekommerd oor vergifnis as om werklik op parool uit te kom. Trouens, hy het ‘n ware vrees om parool te kry, want hy weet daar sal ‘n negatiewe reaksie uit die gemeenskap wees.”
Dit strook met Die Waarheid se inligting. ‘n Werknemer van ‘n vooraanstaande beeldpoetser in Johannesburg het aan ons vertel dat verteenwoordigers van Oscar skakelmaatskappye nader om sy openbare beeld te bevorder om sake vir hom makliker te maak sodra hy vrygelaat word. Sover ons kon vasstel, was daar nog nie professionele maatskappye wat vir die moeilike uitdaging kans sien nie.
Schroder vertel voorts dat Oscar opgehou oefen het. Hy rook nou, het ‘n woeste baard gekweek en het tot bekering gekom.
- Pistorius het die 29-jarige model Reeva op Valentynsdag 2013 in hul badkamer in ‘n luukse ontwikkeling in Pretoria doodgeskiet. Hy het beweer hy het in hul bed wakker geword en losgebrand omdat hy geglo het sy is ‘n inbreker.
Die Blade Runner se soeke na vergiffenis kan sy aansoek om parool ‘n hupstoot gee.
Barry en June Steenkamp, Reeva se ouers, is reeds deur beamptes van die korrektiewe dienste genader oor sy verskoning. Paroolvereistes in Suid-Afrika vereis dat die slagoffers van ‘n misdaad die geleentheid gegee word om ‘n verskoning van die misdadiger te aanvaar of met hulle te versoen.