Skip to main content

Die land gons oor ‘n Pretoriase spiertier wat in ‘n koma in die hospitaal lê nadat hy aan die Wes-Rand deur ‘n polisiebeampte in die kop geskiet is.

Die video van die voorval word wyd en syd op sosiale media versprei.

Muldersdrift SAPD het ‘n klagte net na middernag Saterdagaand ontvang van ‘n bakleiery by Misty Hills-lodge in Muldersdrift. Met hul aankoms het hulle ‘n gas, wat bekend is as Len Cloete, by ontvangs aangetref wat in ‘n argument betrokke was met  personeellede van Misty Hill-lodge.

Hy was glo toegang tot die perseel geweier omdat hy ’n vuurwapen by hom gehad het. Nadat hy ‘n argument met die personeel gehad het, het hy vertrek en teruggekom sonder ‘n vuurwapen in sy besit. Daar is toe ‘n kamer aan hom toegeken.

Hy was baie arrogant en aggressief. Hy het na sy motor gegaan om ‘n koelboks te gaan haal en na sy kamer gegaan. Hy het die polisiebeamptes en die personeel gevloek wat hom na sy kamer vergesel het. Daarna het hy twee van die polisielede met ‘n vuis bygekom.

Cloete het na die kamer in die chalet gegaan en terug gekom met ‘n vuurwapen in sy hand waarna hy die wapen gespan het. Die polisiebeamptes het hom probeer kalmeer maar Cloete het dit verloor en die een polisiebeampte se vuurwapen uit sy hand geruk en begin rondswaai.  Een van die polisiebeamptes het sy wapen op Cloete gerig en een skoot is afgevuur wat Cloete in die kop getref het.

Die verdagte is gearresteer en is onder bewaking by Pine Haven Hospitaal.

Die saak word verder ondersoek. Die omstrede Pretoriase ondersoeker Mike Bolhuis asook Ipid is met ‘n ondersoek besig.

Leave a Reply

error: Content is protected !!