Skip to main content

Geregtigheid het gister in die hooggeregshof in Gqeberha geskied ná ‘n 25 jaar vonnisoplegging vir ‘n huisrower en moordenaar. Luthando Tana (30) het dié misdaad in 2020 in Rowallan Park gepleeg.

Hy het ‘n bejaarde egpaar in hul Rowallan Park-huis beroof. Die verdagte het destyds deur die ongesluite agterdeur van hul huis in Maasdorpstraat ingekom. Hy het mev Martha Snyman (83) in die gang in die huis gekonfronteer. In die onderonsie is mev. Snyman se kop teen die muur gedruk en sy het geval.

Die verdagte is toe na die sitkamer waar hy vir mnr. David Snyman (76) gekonfronteer het. Twee selfone, kontant, juweliersware en ander huishoudelike items is gesteel. Terwyl mnr Snyman ligte beserings aan sy kop opgedoen het, het sy vrou op die toneel aan haar beserings beswyk.

Op Donderdag, 14 Mei 2020 het SAPD Kabega Park-lede, Nelson Mandelabaai Distriksspeurtrio-taakspan en die K9-eenheidlede verskeie huise in die Kuyga-omgewing deursoek waar die meeste van die gesteelde items teruggevind is. Onder die teruggekryde items was mev. Snyman se diamantring, 2 selfone, ‘n DVD-speler, horlosie en ‘n baadjie. Die gesteelde goedere was reeds verkoop. Tana is ook dieselfde dag in hegtenis geneem.

Hy is soos volg gevonnis: Huisbraak met die doel om te roof: 5 jaar; Roof: 20 jaar; Aanranding met die doel om ernstig te beseer (GBH): 8 jaar; Strafbare manslag: 10 jaar.

Die vonnisse vir huisbraak en die aanranding (GBH) sal saam met die roofvonnis gevoeg word en die helfte van die strafbare manslagvonnis sal samelopend met die roofvonnis wees. Hy sal dus altesaam 25 jaar tronkstraf uitdien.

Waarnemende Nelson Mandelabaai-distrikskommissaris, brig Thandiswa Kupiso het die vonnisoplegging verwelkom en die ondersoekbeampte geprys vir so ‘n lang vonnis. ”n Onskuldige lewe is verlore as gevolg van die gulsige bedoelings van die beskuldigde. Kriminele aanvalle wat teen bejaardes gepleeg word, is ernstig en geregtigheid het geskied aangesien die beskuldigde vir lank tronk toe gestuur is,” het brig Kupiso bygevoeg.

Leave a Reply