Suid-Afrikaners is dit eens dat Nando’s dubbele standaarde vir grappe het wanneer dit hulle pas. Die algemene siening is dat hierdie vlamgeroosterde hoender-ete verskaffers nou van hul eie medisyne kry nadat ‘n vervalsde advertensie oor André de Ruyter die lig gesien het.
Nando’s se sosiale media-span het teruggekap op Twitter en baie gou beduie dat dit nie hulle was wat die advertensie gemaak het nie. Daar is baie sosiale media-gebruikers wat Nando’s na-aap en uiters gewaagde of kontroversiële goed plaas asof Nando’s dit gemaak het.
Die vervalsde Twitter advertensie oor die uitvoerende hoof van Eskom, Andre de Ruyter, wat die bohaai veroorsaak het is, met die alom bekende Nando’s Din Next lettertipe gemaak, vandaar die verwarring en die vinnige verweer.
In die “advertensie” word De Ruyter die Prins van Duisternis genoem. Natuurlik het heelparty Suid-Afrikaners dadelik die raskaart gespeel en beweer Nando’s stribbel net tee omdat die Eskom-baas wit is.