Meer as 1500 Telkom-selfoonnetwerkgebruikers per minuut het hierdie diensverskaffer se klagteblad, die Downdetector-bladsy, vandag gepeper met probleme ten opsigte van die maak van oproepe sowel as toegang tot die internet.
‘n Derde van alle Telkomgebruikers het gekla dat hulle geen sein kon kry nie.
Telkom het die kwessie bevestig.
“Dankie vir jou geduld en begrip terwyl ons werk om die fout reg te stel wat diensonderbrekings by verskeie van ons kliënte veroorsaak,” het Telkom gesê.
“Ons verstaan die frustrasie en onsekerheid waardeur jy gegaan het. Wat ‘n dag! Neem asseblief kennis dat die Telkom-netwerkonderbreking opgelos is en dienste weer aanlyn kom.”
Die probleem het glo opgeduik na ‘beplande werk’ in die vroeë oggendure vandag.
“Die probleem is intussen geïdentifiseer en reggestel en dienste is om 6:48 volledig herstel en die netwerk is stabiel,” het die maatskappy gesê.
“Ons vra om verskoning aan ons kliënte vir die ongerief wat veroorsaak is.”