Skip to main content

Suid-Afrika se kragkrisis is duidelik die direkte gevolg van kraglewering aan buurstate soos Zambië en Zimbabwe ten koste van Suid-Afrika, korrupsie onder die vaandel van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en onbevoegde amptenare wat die gevolg van regstellende aksie (RA) is, sê Dr Pieter Groenewald.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het gister die beeldspraak van ʼn dooie perd gebruik om Eskom te beskryf. Dit dien as bewys in watter haglike toestand die kragvoorsiener tans verkeer.

In De Ruyter se verduideliking oor probleme by Eskom gister is dit duidelik gemaak hoe Suid-Afrika feitlik tot stilstand kom om buurlande aan die gang te hou terwyl die land se kragnetwerk oor ‘n wye front besig is om in duie te stort.

Die lys probleme wat genoem is, is tekenend dié van ʼn organisasie in totale verval: Van wye, algemene onderhoudsprobleme, ‘n tekort aan diesel, onbeskikbare onderdele, tot onbekwame personeel aan wie die onlangse ontploffing by die Medupi-kragsentrale toegeskryf word.

Dit is onaanvaarbaar dat hoë poste van kritieke belang enigsins toevertrou word aan onkundige regstellende aksie-aanstellings. Die VF Plus waarsku jare al teen die gevare en nadele van SEB en RA en wat by Eskom gebeur, dien as bewys dat hierdie waarskuwings nie sonder rede was nie.

ʼn Verdere gevolg van SEB is die aanstelling van kontrakteurs wat op selfverryking ingestel is en waar gelaaide pryse vir swak onderdele en onbevoegdheid aan die orde van die dag is.

Enkele voorbeelde is die aankoop van buisligte teen R900 elk wat skaars R63 sou kos by ’n ysterware-winkel, melk wat teen R56 per liter aangekoop is en besems teen R280 000 elk. Dit is hoe SEB in die praktyk daar uitsien.

Suid-Afrika kan nie langer hierdie soort geïnstitusionaliseerde korrupsie en bedrog onder die dekmantel van SEB bekostig nie. Dit dien bloot as verryking van enkele kaders ten koste van al die land se inwoners.

Leave a Reply

error: Content is protected !!