Twee immigrasiebeamptes en ‘n assistent-direkteur van die departement van binnelandse sake in Ermelo is gisteroggend in hegtenis geneem.
Volgens brig Selvy Mohlala, woordvoerder van Mpumalanga-polisie, het die trio glo geld geëis van buitelandse burgers wat besighede in Ermelo besit.
Hulle het beweer die sake-eienaars was onwettig in Suid-Afrika.
Een van die sake-eienaars het die voorval by die Ermelo-polisie aangemeld en ‘n ondersoek is deur die Anti-korrupsie-eenheid van stapel gestuur.
’n Operasie is uitgevoer en die drie verdagtes is gearresteer, nadat hulle lokvalgeld ontvang het.
Luit. Semakaleng Daphney Manamela, die provinsiale kommissaris van Mpumalanga, het gesê die polisie sal alles in hul vermoë doen om korrupsie in die provinsie uit te roei.
Die verdagtes verskyn vandag voor die Ermelo-landdroshof op aanklagte van korrupsie.