Skip to main content

’n Bokwa of vervoerwa wat in 1926 gemaak is, is deur ’n boer van die Morgenzon-distrik in Mpumalanga aan die Voortrekkermonument geskenk.

Oom Jan Adriaan Oosthuizen (88) het die ossewa in 1972 ontdek toe hy die plaas Uitzig van Kerneels Rautenbach gekoop het.

Oosthuizen sê die ossewa het sedert 1972 in ’n stoor gestaan en is nooit gebruik nie.

Hy het toe dié jaar besluit die ossewa kort ’n tuiste omdat hy net staan en vergaan in die stoor. Hy het vir sy dogter Wilma Lindique gevra om op sosiale media te kyk of iemand nie dalk in die wa belangstel nie. Sy het toe agtergekom dat mense duisende rand vir ossewaens betaal en na haar pa toe gegaan met die goeie nuus.

“Ek het vir my dogter Wilma gesê ek wil nie hê die wa moet vergaan nie. Sy het op Facebook gesien dit is baie geld werd, maar ek wil nie geld hê vir die ossewa nie. Ek wil hê dit moet bewaar word en dit is toe sy op hulle afgekom het. Ek het toe dadelik besluit die Voortrekkermonument is die regte plek waar die ossewa sy laaste staanplek moet kry,” vertel Oosthuizen.

Die monument het saam met ’n groep Voortrekker-entoesiaste onlangs ’n lewende laer gekry waar mense kan kom leer hoe die Voortrekkers geleef het.

Jaco van Rensburg van die lewende laer het gehelp om die wa van Mpumalanga na die monument te vervoer. Hy het aan Oosthuizen gesê dit is vir hulle ’n groot voorreg om die wa te ontvang.

“My oom, ons is baie bly oom gee die ossewa vir ons om te bewaar. Ons gaan dit reg doen. Oom moet by die monument kom kuier en vir oom se wa kom kuier.”

“Ons geniet dit verskriklik om mense te leer van die Voortrekkers en hoe hulle kos gemaak het en kerse gemaak het. Baie dankie dat oom ons vertrou met die stuk geskiedenis,” sê Van Rensburg.

Jaco Cilliers, die hoof van Erfenisbewaring by die Erfenisstigting by die monument, sê so ’n skenking is van onskatbare waarde vir Afrikanererfenis.

“Die wa kry nou ’n nuwe tuiste en ons bitter dankbaar vir die skenking. Dit maak mens se hart warm dat mense ons so baie vertrou om so ’n stuk geskiedenis te bewaar,” sê Cilliers.

Leave a Reply