Die Voortrekkermonument is ’n kultuurtuiste waarvan die fokus op erfenisbewaring en beskerming gerig is. In dié konteks is die Voortrekkermonument besig met die herstel van die erfenisterrein se tuine om die oorspronklike visie van die Voortrekkermonument gestand te doen.
Daar is ’n tweeledige benadering tot die opknapping en instandhoudingswerk wat hier plaasvind.
Eerstens is daar die bewaring van ons tasbare historiese erfenis, maar ook van die natuurerfenis. Die monument se terrein is 341 hektaar groot en daar is deurlopende instandhouding wat gedoen word om die natuur te bestuur. Daar word gereeld indringerplante en bome, asook valstrikke en slagysters uit die veld verwyder.
Tweedens is daar indieptenavorsing gedoen oor die herstel van die historiese tuine rondom die monument aan die hand van ’n goedgekeurde Erfenisbestuursplan. Advies is ingewin van verskeie erfeniskundiges en tuinboukundiges om balans tussen die historiese en natuurerfenis te verseker.
Navorsing is in die monument se argiewe gedoen oor wat die oorspronklike visie was van hoe die tuine om die monument moet lyk. Aan die binnekant van die walaer en aan die voorkant van die Assegaaihekke is drie groot rotstuine beplan vir ’n omvangryke vetplantversameling. Die klippe hiervoor is in 1936, nog voor die hoeksteenlegging, deur Coert Steynberg uitgesoek en geskenk. In 1949 was die bedoeling dat die blombakke voor die Vrou- en kinderbeeld medisinale plante en kruie uit die Groot Trek moet bevat waarmee die Voortrekkers op die trekpad hulle medisynetrommels gevul het.
Die Onderwyskollege van Pretoria het in die vyftigerjare ’n reliëfkaart van Suid-Afrika saamgestel met ’n voorstelling van die Voortrekkers se vyf grootste trekroetes in die tuin oos van die monument. Paadjies is uitgekap en die trekleiers se roetes is met verskillende soort kleurklippe uitgebeeld. Replikas van Dingaanstat, Moordkoppie, Bloukrans, Kerkenberg en Thaba Nchu is aangedui. In die trekroetetuin is die vernaamste berge en riviere ook aangedui.
In Maart 1961 het dr. Nicol, voorsitter van die Beheerraad, die grootse onderneming met betrekking tot die verfraaiing van die trekroetes van stapel gestuur. Hy het aan al die burgemeesters van die dorpe waardeur die Voortrekkers getrek het ’n versoek gerig om ongeveer 20 plante uit hulle omgewing aan die monument se superintendent te stuur, sodat dit by die betrokke plekke op die trekpaadjies geplant kon word. ’n Lys van plante, vetplante en struike is saamgestuur. Die reaksie was oorweldigend. Plante is hoofsaaklik met goederetreine gestuur uit plekke soos Rustenburg, Durban, Pietermaritzburg, Uitenhage, Thaba Nchu, Graaff-Reinet en die Strydpoort-omgewing. Aalwyne uit Upington en Grahamstad, broodbome uit Queenstown en vetplante van Letskraal, Andries Pretorius se plaas, is gestuur.
Vroeg in 1967 is aanbeveel dat inheemse bome soos die witstinkhout, basterkaree, witsering, blinkblaar, huilboerboon en vaderlandswilger aan die agterkant van Monumentkoppie en om die Amfiteater geplant moet word, maar nie in die historiese trekroetetuin met die unieke vetplantversameling nie.
Oor dekades is die eens pragtige en historiese trekroetetuin grootliks onversorgd gelaat en het tot niet gegaan. Trekroetes was toegegroei en was op meer as een plek onbegaanbaar. Elke voorstelling van ’n rivier was deur boomwortels gebreek.
Boomwortels het die klippe van die trekroetes so opgelig, dat die roetes op meer as een plek onderbreek is. Die eens pragtige vetplante wat van regoor Suid-Afrika ingesamel is, het nie meer bestaan nie. Die beddings was kurkdroog en deur onkruid verdring.
In die trekroetetuin het byvoorbeeld tot vyf bome, waarvan verskeie indringerbome is, reg teen die historiese walaermuur inmekaargegroei. Hulle takke het teen die walaermuur gedruk en wortels het die struktuur, wat wel deur Erfeniswetgewing beskerm word, sigbaar beskadig. Die tuin was oortrek met indringerbome. Omdat die bome so verdig het, het nie net die struike en plante op die grond skade gely nie, maar talle bome is misvorm. Die meeste van die doringbome was lankal dood met gebreekte takke wat tot op die grond gehang het.
In die walaer is die oorspronklike rotstuine toegegroei, meestal met onkruid, en onherkenbaar. Wortels van onoordeelkundige plante in blombakke, het die struktuur begin breek. Boomwortels hou ook ’n wesenlike risiko in vir die Voortrekkermonument se fondasie.
Na verskeie konsultasies met landbou, erfenis en tuinboukundiges, en aan die hand van die navorsing wat gedoen is, is daar besluit om die historiese trekroetetuin te herstel. Sedert April is begin om aan die hand van die oorspronklike plan die trekroetes oop te grawe, die riviere te herstel, onkruid uit te trek, indringerbome te verwyder, bosse uit te kap en aanwysigings aan te bring.
In die argief is die naamlyste van oorspronklike plante uit die verskillende dele van die land opgespoor en waar dit geplant moet word. Dit is die volgende fase in die proses.
Verder rig die monument hulle eie kwekery op om die plante, wat verwyder moes word, in en om die walaer, weer elders op die terrein te kan gebruik, en selfs te kan skenk aan organisasies wat dit nodig het.
Talle vrywilligers help gratis met die proses om die trekroetetuin skoon te maak, waarvoor die Voortrekkermonument dankbaar is. Die Voortrekkermonument neem ook hande met Pretoria dieretuin om die takke aan die kameelperde te voorsien.
Wanneer die trekroetetuin herstel en skoongemaak is, sal dit volgens die oorspronklike bedoeling dien as ’n fokustuin waar kinders die Groot Trek kan speel, voordat hulle die Voortrekkermonument besoek. Dit sal Suid-Afrika se grootste buitelugbordspeletjie wees.
Wanneer ’n tuin te lank ongekontroleerd groei en nie versorg word nie, kom daar skade wat jare later moeilik en duur is om te herstel. Erfenisbewaring is die kerndoel van die monument en ons bly rotsvas in die strewe om ons kultuur en natuurerfenis gebalanseerd te bewaar en beskerm.