Die polisie in KwaZulu-Natal vat misdadigers deesade voor die voet vas. In een só ‘n geval het die polisie onverwags op twee verdagtes toegeslaan, en daar is beslag gelê op polisie-uniforms, ammunisie en vuurwapens.
Die arrestaies verlede week op die R34, naby Melmoth, is uitgevoer in ‘n gesamentlike operasie deur Durbanse spesiale taakspanlede, misdaadintelligensie en die Zoeloeland-distrikstaakspan.
Die aangekeerdes, onderskeidelik 35 en 37 jaar oud, is in besit gevind van ‘n vuurwapen met vier rondtes ammunisie, asook verskeie polisie-uniforms.
“Die span het inligting opgevolg oor moontlike verdagtes wat beplan het om ‘n roof in Melmoth te pleeg,” het kapt Nqobile Gwala, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gesê.
“Tydens die operasie is ‘n voertuig met twee insittendes opgemerk wat op die R66/R34-pad naby Gold Reef Compound in Melmoth ry.
“Die voertuig is gestop en die insittendes is deurgesoek.”
Die verdagtes sal vandag in die Melmoth-landdroshof verskyn