Skip to main content

Jans Rautenbach, gedoop Johannes, (maar moenie daardie uitgebreide naam gebruik nie!) een van Suid-Afrika se veelsydigste skrywers, is druk besig met ‘n nuwe manuskrip.

Lesers is van mening dat Jans ‘n uitstekende skrywer is.  ‘Sy storieboeke lees gemaklik en is in gesprekvorm. Die kinkels en draaie wat hy in sy stories inbring, maak dat die leser glad nie vooruit kan weet hoe die storie verder gaan verloop en wat die uiteinde gaan wees nie.  Hy kan oor enige onderwerp skryf, of dit nou waarheid of fiksie is.  Die geskiedenis van ons land fokus sterk in sy werk, en sy speurverhale, spookstories, sport, drama en Christelike verhaal wat op ware gebeure gebaseer is, is uit die boonste rakke!’

Die dryfveer agter Jans se woorde is ons land en sy mense, Afrikaans, die natuur en dinge wat om hom gebeur.

Hierdie gedugte skrywer en sy vrou, Lizelle, se liefde vir die buitelug, tuinmaak, toer en die natuur was mooi in hul kraal tydens die jare wat hul hul eie toermaatskappy gehad het. Jans en Lizelle het al elke liewe wildpark en natuurreservaat in Suid-Afrika besoek, en in hul wêreldreise het hulle al meer as 35 lande besoek. Alhoewel hulle nie mensekinders het nie, maak hul drie katte en een hond oorgenoeg op in liefde.

Weens ‘n genetiese afwyking is Jans 100% doof nadat sy gehoor oor ‘n tydperk heeltemal afgeneem het. Hy is 100% afhanklik van sy vrou, Lizelle, as gevolg van hartprobleme, terminale emfiseem, chroniese asma en hoë bloeddruk.

Sy leuses in die lewe is: ‘net een dag op ’n slag’ en ‘doen wat jy kan vandag, want môre mag dalk nie daar wees nie’.

Nadat Die Waarheid by die Rautenbachs gaan aanklop het oor sy nuwe boek, Gedagtespel, het ons hierdie lokteks bekom:

Gedagtespel is ’n eg Suid-Afrikaanse speurverhaal vol aksie, spanning, romanse en intrige om die reeksmoordenaar of reeksmoordenaars vas te trek.  Die verhaal belowe om die leser te bind met al die drama en kinkels en maak selfs ‘n draai by die bonatuurlike.

Die afsluiting van die verhaal sal die lesers verras met nóg meer intrige en kinkels.

Is julle gereed om meegevoer te word?

Wat maak Gedagtespel anders (indien dit is) as enige van die ander boeke wat Jans reeds gepubliseer het?

“Basies al my boeke is gebaseer op ware gebeure in Suid-Afrika.  In Gedagtespel speel Suid-Afrika wel ’n rol maar die hele verhaal is fiktief.

“Ek het natuurlik ook ’n bundel kortverhale geskryf wat fiktief is waar ek ’n spookstorie, – nie op feite gebaseer nie -, wat by Aliwal-Noord afspeel, bygevoeg het.  In twee van die verhale skryf ek dan ook wat ‘moontlik in die toekoms kan gebeur’ met die Corona virus.  AS DIE SON SAK het in die begin van 2021 die lig gesien, maar is alreeds in die middel van 2020 geskryf en ek is nou verstom om te sien hoe my eerste storie, Pandemie, al hoe meer waar kom.”

Wanneer sal Gedagtespel op die rakke verskyn?

“Aangesien basies al my boeke op die waarheid gebaseer is en deesdae se uitgewers meer gesteld is op politieke korrektheid as ’n goeie storie wat op die waarheid gebaseer is, sal Gedagtespel nie na enige uitgewer gestuur word nie.  Dus sal dit nie op die rakke verskyn nie, maar ons sal wel die boek laat druk en self publiseer en bemark.  Ek sal Gedagtespel heel moontlik teen die einde van 2021 voltooi en dit dan vroeg in 2022 beskikbaar stel.”

Waar kry jy die inspirasie vandaan om te skryf? (Daar is skrywers wat sukkel om een boek uit te wurg…)

“Inspirasie kom uit lewensondervinding. Jy kan vir my enige onderwerp gee en ek sal vir jou ’n boek daaroor skryf.  Indien ek meer gesond was, twyfel ek of dit ’n probleem sou wees om tot drie boeke ’n jaar bekend te stel.”

As jy vir nuwe/voornemende skrywers raad kan gee, wat sou dit wees?

“Gaan sit net en skryf.  Voor jy nie die pen opneem en begin skryf nie, sal daar nooit ’n storie wees nie.  Elkeen het ’n storie om te vertel en dit neem net die mannemoed om te gaan sit en jou storie te skryf.  Indien jy nie probeer nie, sal jy nooit weet of jy dit wel kan doen nie.”

Lesers dink dat boekskryf ‘n outomatiese deur na roem en rykdom is. Is dit so?

Nee, miskien bekendheid, maar beslis nie rykdom nie.  As jy nie die narratief van die ‘regerende uitgewer-party’ volg nie, is daar geen rykdom nie, want publiseerders probeer sover moontlik wegbly van jou sodat hulle nie ook as ’n rassis uitgekryt kan word nie, al is jy nie ’n rassis nie en jy slegs die waarheid skryf.  Wanneer jy integriteit het en weier om die leuens van die wêreld te versprei, al is dit in storievorm, is jy gedoem. Die gevolg is dat jou werke nie in boekwinkels beskikbaar sal wees nie.  Dan doen jy dit vir die liefde van jou taal, jou liefde vir ons geskiedenis, – in my geval en om te skryf-, en om ten minste ietsie van jouself agter te laat.  Indien jy wil skryf om geld te maak, kan jy net sowel ophou voor jy begin, want ek wonder of een uit ’n honderd skrywers rykdom behaal.”

As boorling van Uitenhage, glo jy dat die omgewing waar skrywers grootword, ‘n rol speel in die stories/boeke wat hulle voortbring?

“Nee, jou plek waar jy grootword het niks te doen met jou stories nie.  Wat wel ’n groot rol speel, is of jou ouers vir jou liefde vir lees aangeleer het.  Dan, soos ek vroeër gemeld het, jou lewensondervinding speel ’n groot rol in die stories wat jy voortbring.  Ek glo my liefde vir lees en my lewensondervinding speel die grootste faktor in my skrywe.  Die feit dat ek al vanaf 2014 op geleende tyd leef as gevolg van terminale emfiseem, maak dat daar seker ’n groter dringendheid by my is om te skryf.  Deur my skrywe weet ek dat ek vir ewig sal voortleef.”

Hoe belangrik is navorsing vir skrywers?

“Dit hang af oor wat jy skryf.  Gedagtespel, byvoorbeeld, het geen navorsing nodig nie en die storie vloei net vry uit my gedagtes.  Tog moet jy altyd seker maak dat jou skrywe globaar is. Ek self raak uiters gefrustreerd wanneer ’n storie of ’n fliek onglobaar is.  Wanneer jy ’n boek wil skryf wat op die waarheid gebaseer is, is navorsing – uit soveel verskillende bronne moontlik – noodsaaklik.  Die reeks: Verskeurde Land, Afrikaner Land, Geskende Land en Verskroeide Land, het ongelooflik baie navorsing geneem, want ek wou die geskiedenis vanaf 1900 tot basies in die hede, so waar as moontlik oorbring, al is al vier verhale werklik net lekkerlees stories.”

Hoeveel boeke het jy al op die rakke?

Twee Engelse boeke en Gedagtespel is die agste Afrikaanse boek.  Ek is egter onseker of daar meer gaan kom, want my gesondheid gaan basies daagliks agteruit.  Tog droom ek om by ten minste twintig boeke uit te kom, maar ek glo dit sal slegs ’n droom bly al is daar nog tientalle stories in my kop.”

Watter boek het jou die meeste kopseer verskaf gedurende die skryf daarvan? En hoekom? (Die lesers sal wil weet of groot name ook soms sukkel.)

“Gedagtespel, want ek het totaal afgewyk van ’n storie skryf wat op die waarheid gebaseer is.  Dan ook, omdat Gedagtespel totaal anders is as gewone speurverhale, moes ek gaan krap waar ek nie geweet het of ek wel die kennis het om ’n fiktiewe boek te skryf wat geloofwaardig sal wees vir lesers nie.  Gedagtespel is ’n storie wat ek glo ’n wonderlike fliek sal maak, want dit het al die eienskappe wat benodig word om ’n treffer te wees.  Tog twyfel ek of dit ooit sal gebeur, want weereens skryf ek die waarheid oor die vermoëns van verskillende rasse en beslis is my hoofrolspelers blank en nie ’n ander ras soos wat deesdae vereis word nie.”

‘n Lys van Jans Rautenbach se boeke wat hy alreeds self gepubliseer het:

A RHINO CRYING A COUNTRY DYING

CURSED BY SECOND SIGHT

DIE SCHEEPERS SAGE I: VERSKEURDE LAND

DIE SCHEEPERS SAGE II: AFRIKANER LAND

DIE SCHEEPERS SAGE III: GESKENDE LAND

DIE SCHEEPERS SAGE IV: VERSKROEIDE LAND

SKROEIOOND: OUTOBIOGRAFIE

SMELTKROES: CHRISTELIKE VERHAAL

AS DIE SON SAK: VYF BOEIENDE KORTVERHALE

Tans besig met GEDAGTESPEL: ’N EG SUID-AFRIKAANSE SPEURVERHAAL

Ons lesers kan gerus na Jans se webtuiste kyk vir meer inligting oor al sy boeke.  Die pryse is ook beskikbaar op die webtuiste, indien benodig.

Indien enige lede van die publiek belangstel in sy boeke kan dit direk vanaf Jans bestel word via enige van die volgende metodes:

via epos:  jansrautenbach.author@gmail.com,

via Whatsapp alleenlik (geen oproepe): 060 774 3838

via Jans se webtuiste: https://jansrautenbachauth.wixsite.com/jans

OF die e-boek formaat van al Jans se boeke is beskikbaar op AMAZON.COM

Leave a Reply