Skip to main content

Pres. Cyril Ramaphosa glo dat daar drie tipes beleggings is wat miljarde aan inkomste na ons land sal bring, asook beurtkrag sal laat sneuwel.

Aspen Pharmacare se Gqeberha-vervaardigingsfasiliteit word uitgebrei, en die waarde van hierdie groei is R3,4 miljard. Die plan is sedert 2018 in die pyplyn. Hierdie fasiliteit is een van die grootste vervaardigingsentrums vir algemene narkose in die wêreld. Daar word ook voorsiening gemaak om meer as 100 miljoen dosisse van die Johnson & Johnson Covid-entstof daar te vervaardig.

Suid-Afrika gaan ook ‘n mRNA-entstofvervaardigingsentrum saam met Biovac Institute oprig.

25 Voorkeurbieërs wat onafhanklike kragverskaffers sal wees, sal na raming sowat R50 miljard vir die ekonomie beteken.

“Suid-Afrika het onlangs ‘n ooreenkoms vir sowat R131 miljard bekom vanaf die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk, Frankryk, Duitsland en die Europese Unie om ‘n regverdige oorgang na ‘n laekoolstofekonomie te finansier deur te belê in hernubare energie, groen waterstof en elektriese voertuie.

“Hierdie energiebeleggings sal ons help om die uitmergelende beurtkrag wat die land tans ervaar te oorkom aangesien nuwe elektrisiteitsopwekkingskapasiteit aanlyn kom,” sê Ramaphosa.

Verskeie nuwe beleggings in datasentrums en ondersese kabels sal nie net nuwe beleggings inbring nie, maar sal die infrastruktuur verskaf wat nodig is vir die groei van tegnologie- en telekommunikasiebedrywe, het Ramaphosa gesê.

“’n Belangrike deel van ons beleggingsdryf is die verreikende strukturele hervormings wat ons onderneem op gebiede soos energie, telekommunikasie, water en hawens en spoorweë.

“Hierdie hervormings sal doeltreffendheid en mededingendheid verbeter, die koste van sake doen in Suid-Afrika verlaag en groter private investering in ons ekonomiese infrastruktuur aanmoedig.”

Die president het opgemerk dat Suid-Afrika nou 13 spesiale ekonomiese sones regoor die land het, wat beleggers voorsien van geteikende beleggingsaansporings, voorkeurbelastingkoerse en uitvoersteun.

Leave a Reply

error: Content is protected !!