Skip to main content

SONJA BROWN

Raadslede werk hulle basse af vir hulle kiesers, maar hulle het nie beheer oor alles wat gebeur nie. Veral nie as hulle party nie die metroraad beheer nie.

Pieter Henning, die DA se verteenwoordiger in wyk 25, (Ekurhuleni) en ‘n baie bekende gesig al vir ongeveer 40 jaar in Bredell, het 69,02% van die stemme in hierdie wyk verower.

Henning is ‘n man wat nie skroom om sy neus in enige sake te steek wat sy wyklede se welstand betref nie, enige lid van die wyk 25 gemeenskap is welkom om hom enige tyd van die dag of nag te kontak met diensleweringprobleme in hul area.

Pieter het met Die Waarheid gesels oor die pad vorentoe, asook sy jare as DA-verteenwoordiger in hierdie wyk.

“Die meeste van die DA-raadslede werk ons basse af om die omgewing vir ons kiesers leefbaar te hou, en dienslewering te laat funksioneer. Daar is egter baie probleme waaroor ons, wanneer ons nie ‘n munispale gebied self bestuur nie, geen beheer het nie.

“Die grootste kopseer wat ons in Ekurhuleni ondervind is swak bywetstoepassing. Dit word hoegenaam net nie gedoen nie.

“Daar is byvoorbeeld ‘n deel in Bredell wat geoormerk is vir verandering van landbouhoewes na ‘ligte industrieël’. Niks van hierdie planne is reeds afgeteken nie, maar besighede floreer reeds onwettig daar die afgelope klompie jare.

“Gedurende so ‘n proses moet ploteienaars aansoek doen vir verandering van regte, m.a.w. van landbouhoewe na ‘ligte industrieël’. Só ‘n aansoek kan enigiets van R50, 000 tot R100, 000 kos. Dan, wanneer dit goedgekeur is deur die raad, is daar ‘n nuwe roete wat gevolg moet word.

“Daar is ‘n afdeling genoem Regional Spacial Development Framework. Sulke aansoek val onder hierdie sambreel, en sodra ‘n verandering van regte goedgekeur is, word dit ‘n duur storie om die titelakte te laat herklassifiseer. Dit kan miljoene rande beloop, afhangende van die grootte van die grond.

“Hierdie gelde is veronderstel om gebruik te word om die paaie en infrastruktuur om dié persele wat goedgekeur is, te verbeter.

“Omdat Stadsbeplanning en die Bouafdeling in ons munisipaliteit nie die wette toepas nie, gaan emmers vol geld vir die munisipaliteit verlore. In Derdelaan, Bredell se hoofstraat, bedryf slegs die Spar en die blok waarin die poskantoor is, wettig bedryf.

“Die stelsel in Ekurhuleni se verval is skokkend. Oral in Bredell word strukture sonder goedgekeurde bouplanne opgerig, en ek is die enigste raadslid wat 600-700 onwettige besighede in my gebied het.

“As mense by my kla oor enigiets, doen ek alles in my vermoë om hulle te help. Ek moedig al dié wat kla aan om vir my ‘n e-pos te stuur sodat daar ‘n papierspoor is van klagtes. Ek verteenwoordig alle mense, nie net sekeres nie. Daar is natuurlik mense wat my gereeld vloek en op my skreeu omdat ek nie hul onwettige besighede wil toelaat nie, maar daar is bywette wat hulle verbied om dit te doen.

“Dit is ‘n lang proses om onwettige besighede te laat toemaak. Klagtes word aan Stadsbeplanning deurgegee, en dan moet hulle inspeksies uitvoer (wat meestal nooit gebeur nie). Sodra hulle die onwettighede bevestig, word die dokumentasie na die Regs- en Korporatiewe Departement gestuur. Vandaar moet ‘n saak deur ‘n regsgeleerde vir die Hooggeregshof voorberei word sodat ‘n bevel aan die oortreder uitgereik kan word. Meeste van hierdie klagtes beland by regsgeleerdes wat niks van stadsbeplanningwette af weet nie, en dan loop die straat daar dood.

“In gebiede waar daar swak of geen toepassing is van bywette nie, styg misdaad. As mens kyk hoeveel ‘cash for scrap’ plekke in ons gebied is, – almal onwettige bedrywighede – en sien dat daar geen kontrole is in veral waar dit in iemand se agterjaart bedryf word, kan jy vir seker weet dat hulle gesteelde goedere sal aankoop by skelms.

“Daar is wel besighede in ons area wat reeds 15 jaar gelede die regte stappe gevolg het om hul besighede se titelaktes te laat verander, maar tot op datum het hulle nog geen uitslag oor hul aansoeke nie. Hier kan ek net weereens sê: die Stadsbeplanningsafdeling is in ‘n gemors.

Die DA se stem spreek vir homself in areas waaroor hy beheer het. As mens na die afgelope verkiesing se uitslae kyk, dan begin die skille van mense se oë afval.

Leave a Reply

error: Content is protected !!