‘n Doodgewone uitstappie verlede Saterdagoggend na die nabygeleë winkelsentrum het ampertjies vir Rensie Vorster van Honeydew-rif in Roodpepoort en haar kleinseun in ‘n nagmerrie ontaard.
Die parkeerarea van die winkelsentrum was geweldig vol aangesien dit die einde van die maand was.
Sy het eers gesukkel om parkering te kry maar uiteindelik kon sy daarin slaag om ‘n stilhouplek te kry, min wetende dat daar twee mans besig was om ‘n voertuig regs langs haar voertuig te probeer steel.
Sy en haar kleinseun, Gustave, het na die sentrum toe aangestap toe haar kleinseun omdraai en terug na die voertuig toe beweeg. ‘n Motor het ewe skielik uit een van die parkerings beweeg en haar amper gestamp.
Sy het nog aan haar kleinseun gesê, dat daar regtig ‘n klomp ongeskikte bestuurders hier rond is en dat hulle haar amper omgery het, min wetende dat sy en haar kleinseun die twee boewe se planne in die wiele gery het.
Niksvermoedend het sy en haar kleinseun hul inkopietog voortgesit en met die terugkeer na hul voertuig het die karwag hulle meegedeel dat twee mans besig was om die voertuig, ‘n Volkswagen Polo, reg langs haar voertuig te probeer steel. Maar toe hulle so kordaat in die parkeerplek inry en uitspring het die twee skurke besluit om eerder pad te vat.
Niemand is in die voorval beseer nie.