‘n Bejaarde vrou het erge brandwonde aan haar hande en voete opgedoen nadat sy op haar plaas Schietpoort naby Bronkhorstspruit net na 23:00 Woensdagaand deur sewe gewapende mans oorval en gemartel is.
Volgens die polisiewoordvoerder, Konst. Catherine Phungo, “het die aanvallers diefwering van die plaashuis geknip en vier van hulle het die 84-jarige vrou terwyl sy geslaap het, wakker gemaak en tot by die badkamer gesleep waar hulle haar hande vasgebind en haar vir ure lank met ‘n ‘blow torch’ gemartel het. Daarna het hulle haar in die badkamer toegesluit, waarna hulle twee plaaswerkers buite die huis oorval en vasgebind het”.
Een van die werknemers het later losgekom en by die buurplaas gaan hulp soek; gemeenskapslede en die polisie is onmiddelik gekontak.
Die rowers het die huis leeggedra. Hulle het al die items in ’n wit Ford Ranger bakkie gelaai, wat aan die plaaseienaar behoort het, en daarmee gevlug.
Die bejaarde vrou woon al meer as 30 jaar op die plaas, waarvan sy die laaste jaar alleen gewoon het, aangesien haar man weens Alzheimers in ’n versorgingsoord is.
Die bejaarde vrou het erge brandwonde aan haar hande en voete opgedoen en is na die Bronkhorstspruit Hospitaal geneem vir behandeling.
Die polisie se misdaadintelligensiespan, Bronkhorstspruit SAPD se speurders en honde-eenheid, en die Tshwane Distrik se trio-taakspan, het reeds drie verdagtes gearresteer, waarvan een ’n plaaswerker is. Die voertuig en gesteelde items is later by ‘n naby geleë nedersetting, gevind.
Die rowers kan moontlik ook met ander voorvalle in die omgewing verbind word.
Die saak word verder ondersoek.