Met die verkiesingsuitslae wat min of meer finaal verklaar is, ly die meeste Suid-Afrikaners aan stembus-babelaas, maar daar is steeds een vraag wat beantwoord moet word: Wat beteken dit alles?
Die ANC het sowat 46% van die stemme getrek en vir die meeste mense lyk dit of hulle steeds baie maklik gewen het. Daardie 46% vertel egter nie die hele storie nie.
Die groot nuus van die verkiesing was die geweldige wegblystem – minder as nege miljoen van die 26 miljoen geregistreerde kiesers het hulle kruisie gaan trek. Die feit dat party kiesers die stem-vakansiedag op ‘n Maandag gebruik het om verlede naweek ‘n langnaweek te maak kan ‘n klein aantal van die wegblystemme verklaar, maar kenners is dit eens dat die meeste kiesers weggebly het omdat hulle ontevrede is met die ANC se vlak van korrupsie, swak dienslewering en kader-ontplooiing, maar dat hulle nie hul weg kon oopsien om vir ‘n ander party te stem nie.
Daardie lae stempersentasie van onder 40% beteken dus dat slegs sowat 17% van Suid-Afrika se geregistreerde kiesers vir die ANC gestem het. Laat dit ‘n oomblik insink… slegs 17%…
Dit sal naief wees om te dink dat die tendense in hierdie verkiesing net so sal oorspoel na 2024 se nasionale verkiesing, maar as van die neigings daar herhaal word, kan goed interessant wees.
‘n Nasionale verkiesing met minder as 40 persent van die kiesers wat hulle kruisies trek, kan die legitimiteit van die regering in die gedrang bring. Boonop kan ‘n syfer van minder as 50% vir die ANC beteken dat die eens magtige party provinsies – en teoreties dalk – die regering van die land aan ‘n koalisie kan afstaan.
As mens in ag neem dat die ANC se steun in Limpopo, Mpumalanga en die Oos-Kaap steeds baie groot is, kan dinge in provinsies soos Gauteng, KZN, die Noord-Kaap en selfs die Vrystaat begin lol.
‘n Nasionale implikasie wat reeds binnekort werklikheid kan word, is dat pres. Cyril Ramaphosa se posisie as president van Suid-Afrika in die spervuur beland. Die groot problem is dat die ANC nie ‘n jong geslag van voor die hand liggende opvolgers het nie…
Partye is reeds besig om koalisievennote te soek. Die EFF het hom reeds bereid verklaar om in koalisie met die ANC te tree, maar dan gaan die ANC hulle moet nader, het Julius Malema reeds gesê. Hulle gaan nie na koalisievennote vry nie.
In die stadium lyk dit nie of hulle – of die ANC – kan kies en keur nie. Min partye het ‘n aptyt om met een van hierdie twee saam te werk.
Die implikasies is beduidend, veral in vyf van die agt metro’s.
Gauteng
In Tshwane het die ANC 34,6% van die stemme gekry en die DA het 32% ingepalm. ‘n Koalisie met die EFF gaan nie goed genoeg vir die ANC wees nie. Die EFF het goed gevaar deur 10,9% van die stemme te kry, maar ‘n ANC/EFF-koalisie sal nie kan regeer nie – hulle is sowat 4,5% kort van ‘n meerderheid.
As die DA, Action SA (8.6%), die Vryheidsfront Plus (7.84%), die ACDP en nog ‘n klein partytjie saamstaan, kan hulle net-net regeer.
In Johannesburg het die ANC en die IVP saam net 44% steun.
As die DA (26.14%), Action SA (16.05%), die IVP (2.36), die ACDP (1,05%), en die VF Plus (1.34%) hulle skapies in een kraal kan jaag, het hulle sowat 47% van die stemme.
Dit plaas die Patriotic Alliance van die veroordeelde misdadiger Gayton McKenzie in ‘n posisie waar almal na hom gaan vry. Hy het sowat 3% van die stemme, maar dis nie seker by wie hy sy gewig sal ingooi nie. Hy en die DA is nogal krapperig met mekaar…
In Ekhuruleni kan die ANC (38.2%) en die EFF (13,57%) in koalisie regeer.
Vrystaat
Die ANC het net-net ‘n volstrekte meerderheid in Mangaung (51%). Die Goudvelde is ook ANC-wêreld.
KwaZulu-Natal
In eThekwini (Durban) sal die ANC en EFF in koalisie kan regeer.
Oos-Kaap
Buffalo City (Oos-London) is in die sakkie vir die ANC, maar in Nelson Mandelabaai (PE) kan die DA saam met ‘n string klein partytjies regeer.
Wes-Kaap
Die DA het buite die Kaapstadse metropool gesukkel, maar hulle het gemaklik in Kaapstad gewen.
Noord-Kaap
Die ANC regeer nog in Kimberley en Upington.