Skip to main content

Die Nasionale Kommissaris van die SAPD, Generaal Khehla John Sitole, het gevra vir die onmiddellike mobilisering van die 72-uur aktiveringsplan met betrekking tot ‘n bloedbad waarin vier mense dood en vyf ander gewond is Woensdagaand in Sentraal Gqeberha (Port Elizabeth se nuwe naam).

Voorlopige ondersoeke op hierdie stadium het aan die lig gebring dat twee verdagtes omstreeks 21:00 Woensdagaand ‘n groep vermeende rondlopers in ‘n verlate gebou in Clydestraat genader het. Na bewering was die verdagtes op soek na ‘n persoon wat hulle nie gekry het nie en het daarna skote op die groep begin afvuur.

Vier slagoffers, ‘n vrou en drie mans, het op die toneel aan hul beserings beswyk. Vyf ander slagoffers, ‘n vrou en vier mans, is ernstig gewond en na ‘n nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die identiteit van die slagoffers moet nog vasgestel word.

Die polisie het ’n soektog na die verdagtes van stapel gestuur terwyl ’n ondersoek na die omstandighede rondom dié aanval aan die gang is. Geen arrestasies is op hierdie stadium gemaak nie.

Die Nasionale Kommissaris het die moorde veroordeel as lafhartig en dat daar geen waarde geheg word aan menselewe sowel as die wet nie. Generaal Sitole het die span ondersoekers versoek om die oortreders so vinnig moontlik op te spoor.

Enigiemand wat kan help om die slagoffers te identifiseer, of weet wie hul naasbestaandes is of enige inligting het aangaande die verdagtes, word versoek om asseblief die SAPD Humewood of Speur-ao Raubenheimer te kontak by 074 4306 048/Crime Stop by 086 00 10111. Inligting kan ook deurgegee word via die MySAPSApp, ‘n toepassing wat op enige Android of iPhone afgelaai kan word.

Alle inligting sal met die grootste vertroulikheid hanteer word.

Leave a Reply

error: Content is protected !!