Skip to main content

Die polisie het Maandag ‘n gesteelde luukse sportnutsvoertuig teruggekry nog voordat die eienaar sy saakdossier klaar oopgemaak het.

Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens was in Memel in die Vrystaat aan diens om sake by stemlokale te monitor. Nadat hulle inligting vanaf die gesteelde voertuig, ‘n wit VW Tiguan-voertuig met ‘n GP-registrasienommer, se opspoorstelsel ontvang het, het hulle dadelik daarheen vertrek om die saak te ondersoek.

Die voertuig is na bewering in Cornelia gesteel en die eienaar was reeds besig om die saakdossier by Cornelia polisiestasie oop te maak.

Die lede het die voertuig gewaar, dit voorgekeer en die verdagte gearresteer. Daar is beslag gelê op die voertuig.

Die 32-jarige verdagte sal na verwagting vandag in die Vrede-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom, dronkbestuur, asook roekelose en nalatige bestuur.

Leave a Reply