Skip to main content

Met net meer as twee derdes van die stemme in Maandag se munisipale verkiesing wat getel is, kan daar projeksies gemaak word wat ‘n paar interessante tendense uitwys.

  • Die grootste was waarskynlik die geweldige wegblystem. Daar is mense wat dit aan allerhande goed soos die langnaweek, die Covid-19 pandemie of probleme by stembusse toeskryf, maar die redes is uit ‘n politieke oogpunt redelik voor die hand liggend.

Munisipale verkiesings trek tradisioneel baie minder kiesers as nasionale verkiesings. Voorts is daar heelparty kiesers wat ontevrede met hulle partye se werkverrigting is, maar nie hulle stem aan ander partye wil gee nie. Ongelukkigheid onder kiesers met veral die ANC en DA is grootliks hiervoor verantwoordelik en wys in die afname van die steun vir die twee grootste partye.

  • Townshipbewoners het in groter getalle van die stembus af weggebly as inwoners van die voorstede.

Soweto se kiesers het in massas hulle ontevredenheid met die ANC gewys deur van die stembus af weg te bly. Dit het tot gevolg gehad dat Herman Mashaba se Action SA ‘n paar kiesafdelings in hierdie stad by die ANC weggeneem het.

Dit is waarskynlik goeie nuus vir partye wie se groot steun in die voorstede gesetel is, insluitende die DA, Action SA en VF+.

  • Die DA het die munisipaliteit van uMngeni in die KwaZulu-Natalse Middellande gewen – sy eerste oorwinning ooit in KwaZulu-Natal.
  • Die DA en die ANC toon albei groot verliese, met die ANC se steun wat waarskynlik tot onder 50% gaan daal. Dit is onwaarskynlik dat die DA meer as 22% steun sal kry.
  • Die VF+, die PA en Action SA (veral in Johannesburg) is van die groot wenners.
  • Die EFF toon verrassend min groei, wat bespiegelings laat ontstaan dat die party sy populistiese plafon bereik het.
  • Klein partytjies en onafhanklike kandidate kry meer steun as wat tradisioneel die geval is.
  • Een van die interessantste prestasies deur ‘n klein, nuwe party is die van die National Economic Fighters in Namakwaland. Die party het setels in beide die Richterveld en Kamiesberg-munisipaliteite verower. In die Richtersveld het hulle sowat 5% steun gekry, maar in Kamiesberg was hulle steun 8.5% – meer as die stemme vir groot, gevestigde nasionale partye soos die VF+ en die EFF saam.
  • Kleiner partye gaan ‘n groot “kingmaker”-rol speel met veel meer munisipaliteite waar daar nie ‘n volstrekte meerderheid vir een party is nie. In 2016 was daar 27 sulke “hangende” munisipaliteite. Met 67% van die stemme getel, was daar reeds 35 hangende munisipaliteite, met meer as 40 wat uiteindelik waarskynlik is.
  • Johannesburg sal waarskynlik deur ‘n koalisie van minstens drie partye regeer word.
  • Daar sal waarskynlik ook koalisieregerings in Tshwane, Nelson Mandelabaai en selfs eThekwini(Durban) moet wees.
  • Ondanks groot verval en hopelose dienslewering, gaan kiesers waarskynlik weer vir die ANC ‘n volstrekte meerderheid in Mangaung (Bloemfontein) en Buffalo City (Oos-London) gee.
  • Die DA is besig om sy greep op die Kaapstadse Metro te verstewig, met die Cape Coloured Congress wat vriend en vyand verras met ‘n ongelooflike vertoning ondanks geldnood wat beteken het dat hulle nie eers plakkate kon laat druk nie.
  • Die ANC gaan waarskynlik sy volstrekte meerderheid in Ekurhuleni verloor, maar kan in koalisie met die EFF regeer.

Leave a Reply

error: Content is protected !!