Skip to main content

ISAAC CLOETE

Die magtige ANC in Namakwaland is steeds hartseer nadat hulle hard geslaan is in die munisipale verkiesings.

Die party wat hulle die hardste laat huil is die Namakwa Civic Movement (NCM) gesetel op Springbok. Dit is ‘n nuwe party onder leiding van drs Gustav Bock en Calvino Watt.

Hulle het ‘n paar duisend stemme van veral die ANC gegaps. Hulle het 8 setels in die Namakwa-streek verower. Vier van die setels is by die wankelrige Nama Khoi munisipaliteit (NKM) in dié dorp. Na die ANC en die DA is hulle nou die grootste party in die streek.

Honderde ondersteuners van die NCM was Dinsdagoggend rasend van blydskap toe hulle hoor dat hulle die Bergsig-wyk van die ANC gewen het. Weens die NCM se goeie vertoning staar die ANC nou by drie B-munisipaliteite koalisies in die gesig, asook by die Namakwa Distriksmunisipaliteit (NDM) op Springbok.

Bock het gesê dat hy in ekstase en oorweldig is oor hulle vertoning.

“Ons mense het nou ‘n ingeligte besluit gemaak. Hierdie kiesersvertroue gaan ons nie ligtelik opneem nie, want ons kan nie weer ons mense teleurstel nie.”

Ander nuwe partye soos die Patriotic Alliance (PA)  en National Economic Fighters (NEF) was ook daarvoor verantwoordelik dat die ANC nie ‘n volstrekte meerderheid in die drie munisipaliteite kon kry nie.

Volgens Dawid Markus, president van die NEF, is baie mense nog vasgevang in die sielkundige kloue van die ANC. Daarom sal dit tyd vat om te genees hiervan. Hulle het twee setels verkry.

“Ons is tevrede wat ons binne minder as ‘n maand kon vermag.”

Cyril Warne, burgermeesterskandidaat (PA) het gesê: “Ek is hoogs tevrede met ons uitslae. Binne ‘n maand en met min bronne het ons dit reggekry om een setel binne die NDM te verseker.”

Hy het ook ander kiesers in die streek bedank dat hulle hom gehelp het om ‘n sitplek in die raad van die NDM te kry.

Die DA is die amptelike opposisie by die NKM. Volgens Rodney Kritzinger (DA-raadslid) het hulle uitsonderlik goed gevaar.

“Dit was vir my ‘n besondere geskiedkundige oomblik omdat ek vir die eerste keer Carolusberg en Fonteintjie kon wen. Ons sal definitief  probeer om koalisies te vorm.”

Riaan Cloete, huidige ANC-burgemeester by NKM wou nie kommentaar lewer oor die moontlikheid dat ‘n koalisie binnekort die ANC se beheer hier kan stop nie.

Leave a Reply