Duisende mense het op 1 November soos miere rondgeskarrel om te probeer stem nadat daar bevind is dat hulle name nie op kiesersrolle was nie. En dìt nadat hulle al vir jare by dieselfde plek stem.
Inwoners van ouetehuise in Brentwood Park, wat spesiale stemme wou uitbring, was net ‘n klein groepie van die kiesers wat van IEC-mense wat hulle besoek het moes hoor dat hulle name nie op die drukstukke verskyn nie, en hulle dus nie kon stem nie.
Ander moes entstofsertifikate wys voordat hulle kon stem.
Bewerings van bedrog word oral gefluister aangesien miljoene mense nie hul kruisies kon maak nie ‘omdat hul name nie op die kiesersrol was nie’.
Die Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) het geweier om by die bespiegelinge betrek te word dat vanjaar se plaaslike regeringsverkiesings die laagste stempersentasie in ‘n lang tyd het.
Een uur voordat stemlokale gesluit het, was daar sowat 8,7 miljoen mense (uit 26 miljoen geregistreerde kiesers) wat gestem het volgens die OVK.
Dit is dus ongeveer 30% van geregistreerde kiesers, die laagste sedert 1994.
Die OVK se webwerf waar die opgedateerde syfers per munisipaliteit verkry kan word, werk nie tydens die skryf van hierdie berig nie.
‘n Totaal van 26, 228 975 kiesers het geregistreer om te stem. 44,83% was mans en 55,17% vroue. Die grootste getal registrasies was by mense tussen die ouderdomme van 30-39.